CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Sy leemte word met die mooiste herinneringe gevul

“My pa laat ‘n groot leemte op verskeie gebiede, maar hy vul daardie leemtes met die mooiste herinneringe.”  So sê Raschna Eksteen (neé van der Waldt) van haar pa, prof. De la Rey van der Waldt, wat op 19 September aan pankreaskanker oorlede is.

“My pa laat ‘n groot leemte op verskeie gebiede, maar hy vul daardie leemtes met die mooiste herinneringe.”  So sê Raschna Eksteen (neé van der Waldt) van haar pa, prof. De la Rey van der Waldt, wat op 19 September aan pankreaskanker oorlede is.

Prof. Van der Waldt was vir lank ‘n geliefde dosent en later direkteur by die Skool vir Kommunikasiestudies aan die NWU. Hy was eers dosent in die tagtiger- en negentigerjare aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en later in 2015 die direkteur van die Skool vir Kommunikasiestudies aan die Noordwes-Universiteit (NWU).

Hy is kort nadat hy in Desember 2018 met kanker gediagnoseer is, medies ongeskik verklaar en hy en sy vrou Sonja, het toe besluit om  op Reebok, naby Mosselbaai, te gaan woon.

Hy is op 15 Mei 1957 op Wepener in die Vrystaat gebore waar hy ook sy hoërskoolloopbaan voltooi het. Hy en Sonja was vir 39 jaar getroud en hul dogter, Raschna, is uit die huwelik gebore. Raschna vertel dat haar pa graag in sy vrye tyd leerwerk gedoen en klavier en mondfluitjie gespeel het. “Hy het ‘n groot waardering vir kuns en musiek gehad en het dit geniet om saam met my ma selfdoen-projekte in die huis aan te pak. Hulle het saam ‘n liefde vir kamp en die natuur gedeel.”

Sy onthou haar pa as ‘n gerespekteerde en eerbare man wat met liefde en passie geleef het. “Sy geloof was onbuigbaar. Hy was ‘n groot man met ‘n klein hartjie, altyd bereid om te help. Sy skerp sin vir humor het altyd gesorg vir uit-die-maag-lag en sy gesin was sy hele wêreld.” Raschna vertel verder dat hy ‘n voorbeeld gestel het met sy geloof in Jesus en hoe ‘n man sy gesin moet liefhê.

Verder het hy haar ook geleer: “No matter what, you get UP, you dress UP, you show UP, you never give UP, and you always look UP.” “Hy was ook baie geliefd onder sy kollegas, vriende en studente. Sy sin vir humor het vir baie pret gesorg,” onthou Raschna.

Hy het sy voorgraadse studies tot en met sy meestersgraad aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat (UOVS) voltooi, maar sy reis in die akademie het eintlik begin toe hy in 1982 by die Universiteit van Fort Hare aangesluit het. Hier was hy een van die stigterslede van die kommunikasiedepartement.

Daarna was hy ‘n dosent in bemarking aan die PU vir CHO en die Universiteit van Pretoria (UP). Hy was ook hoof van die departement van geïntegreerde kommunikasie aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT). Hy was ‘n gasdosent aan Washington Universiteit (Seattle) USA, die Christelike Hogeskool Ede in Nederland, Leibniz Universität Hannover, Duitsland, en het ook by verskeie ander internasionale universiteite gaslesings aangebied.

Die huidige direkteur van die Skool vir Kommunikasiestudies aan die NWU, prof. Lida Holtzhausen, sê prof. Van der Waldt se afsterwe is ‘n groot verlies vir dié Skool, die Fakulteit en die Universiteit. “Hy was ‘n professor in die studieveld bemarkingskommunikasie en reputasiebestuur en ook ‘n gegradeerde NRF-navorser. 

“Naas sy bydrae tot die vakgebied was hy ‘n geliefde kollega wat die belangrikheid van verhoudingsbou in die konteks van sy werksomgewing van waarde geag het. Kollegas sal hom onthou as ‘n lang man met ‘n groot hart. “Hy het ‘n diepe belangstelling gehad in die persoonlike welstand van sy personeel en kollegas getuig dat hy ‘regtig in ‘n mens belangstel’. Hy sou gereeld uitvra oor almal se gades en kinders, hul vordering op skool, stokperdjies ens. Sy kollegas sal hom altyd onthou as ‘n passievolle akademikus, met ‘n kleurvolle sin vir humor.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button