Soek jou stamvader of voorouers híér
Die volgende byeenkoms van die GGSA se Noordwestak vind op Saterdag, 3 Oktober om 10:00 in die ou Berlynse Sendingkerk plaas. Isabel Groesbeek, ‘n gerekende genealoog wat al meer as dertig jaar familielyne naspoor, sal as spreker optree.
“Ek wil graag weet wie my stamvader of voorouers is, maar ek weet nie waar om te begin soek nie.”
Indien jy ook met dié probleem worstel, is dit tyd dat jy die entoesiastiese lede van die Genealogiese Genootskap van SA (GGSA) se Noordwestak ontmoet. Hulle sal jou graag touwys maak oor hoe jy te werk moet gaan.
Die volgende byeenkoms van die GGSA se Noordwestak vind op Saterdag, 3 Oktober om 10:00 in die ou Berlynse Sendingkerk plaas. Die gerestoureerde kerk is op die hoek van Sol Plaatjielaan en Du Plooystraat. Alle belangstellendes is welkom.
Isabel Groesbeek, ‘n gerekende genealoog wat al meer as dertig jaar familielyne naspoor, sal as spreker optree. Sy is in vanjaar as hoof van die Genealogielessenaar van die Federasie vir Kultuurvereniginge (FAK) aangestel.
Die doel van die Genealogielessenaar is om FAK-vriende en die algemene publiek te wys hoe om hul familiegeskiedenis na te vors en op te teken. Sy bied reeds sedert 2000 gereeld beginnerswerkswinkels in genealogie met die titel, Van waar Gehasi? vir belangstellendes aan.
Isabel het reeds diep spore in die genealogiese wêreld getrap. In April 1991 is sy by die destydse Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) as hoof van die afdeling: Genealogiese-inligtingsdienste aangestel. Na die sluiting van die RGN het sy sedert 1998 as onafhanklike genealogiese konsultant begin werk.
Haar doelstellings was om wêreldwyd netwerkskakeling met navorsers te bou en om genealogie as wetenskaplike tydverdryf onder die algemene publiek te bevorder en navorsing op aanvraag te onderneem. ‘n Besondere eer het haar te beurt geval toe sy in 2005 tot die eerste vroulike GGSA nasionale visepresident en nasionale skakelbeampte verkies is.
Isabel is ook sedert 2008 die inisieerder en organiseerder van die jaarlikse Genealogie- en Familie-erfenisfees wat in Pretoria gehou word. Vanjaar se fees word op 10 Oktober by die Voortrekkermonument aangebied.
Sluit gerus aan by haar Facebook-groep: FAMILIES INFO SA. Hier deel sy raad en navorsingswenke oor bronne en gebeure en poog sy om die gesprek oor Suid-Afrika se genealogie te stimuleer. Sy is ook die skrywer en medeskrywer en/of redakteur van talle publikasies en artikels oor familiegeskiedenis.
Indien jy meer oor die aktiwiteite van die Noordwestak wil weet, kan jy gerus vir Elmarie Weyers by elmarieweyers2014@gmail.com kontak.




