NewsNews

Bring die springmielies want Volkies se fliek is puik!

‘n Brokkie van My Hart is ‘n fliek wat Volkies se gees en identiteit uitbeeld met beide skerp bemarkingstaktieke en ‘n goeie storielyn wat Volkies se se leerders en hulle alledaagse geluk, humor en trane vasvang.

Dit maak nie saak wie jy is, waarvan jy hou of hoe jy lyk nie – Volkies het ‘n brokkie van hul hart vir jou wat vir ewig bly. Dit is maar net een van die vele goeie indrukke wat ‘n mens kry nadat jy Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste oorspronklike fliek ‘n Brokkie van My Hart: Die Movie van voor tot agter op die grootskerm gekyk het. ’n Brokkie van my Hart is uit nood in die grendeltydperk vanjaar gebore as ‘n oorspronklike bemarkingsplan om die skool te bemark en ‘n opedag op ‘n nuwe manier aan te pak.

Sodoende is daar ‘n spesiale inry gereel waar die fliek gisteraand (Woensdag, 14 Oktober) vir die eerste keer vertoon is. Daar was ‘n gesellige luim op die skoolterrein, maar ook ‘n groot nuuskierigheid oor hoe Volkies se eerste fliek op die grootskerm by die premiere sou lyk. Die publiek het ook die geleentheid om die fliek op 17, 19 en 20 Oktober te kyk en daar word ongeveer net onder die 2000 mense verwag.

‘n Brokkie van My Hart is ‘n fliek wat Volkies se gees en identiteit uitbeeld met beide skerp bemarkingstaktieke en ‘n goeie storielyn wat Volkies se leerders en hulle alledaagse geluk, humor en trane vasvang. Wat hierdie fliek so spesiaal maak is dat Volkies se leerders, onderwysers en bestuur self gehelp het om die fliek te skiet en te produseer saam met Theunis Nel van Woema Produksies. Al die karakters is ook Volkie-leerlinge en personeel en in ‘n kort tydperk het hulle voor die kamera geskitter.

Die hoofkarakter Amanda, vertolk deur Chrisné van Tonder, is ‘n meisie wat nie by haar nuwe skool inpas nie. Mettertyd leer sy wel op interessante maniere hoe spesiaal die skool eintlik is. Haar tyd op die grootskerm saam haar maats Stella (Yentl Lamprecht), Charné (Hildemarie Swart) en Judy (Marli Badenhorst) sorg vir goeie hartsoomblikke en al drie die meisies kan trots wees met hulle vertolkings. Aan die manne se kant is die soeke na liefde sowel as kattekwaad van die groot temas. Hier speel Stephan Labuschagne as Frik, ‘n eerstespan rugbyspeler en Willis Viljoen as Ruan, ‘n bedrewe krieketspeler hulle rolle puik en wys wat baie keer in die lewe van ‘n tienerseun aangaan.

‘n Plumpie moet ook vir die slange, Werner (Christoff Nel) en Lesedi (Luca Mzizi) gegee word. Hulle bring tonne komedie en laat mens keer op keer met oulike dialoog lag. Saam is ‘n hulle kop in een mus! Een van die kameramanne van die fliek en matrikulant, Geert Stoop, speel ook ‘n mini-rol in die fliek as Luan en sy kwinkslae is ook iets om dop te hou.

Volkies se onderwysers en hoof speel ook hulle rolle voortreflik en beeld uit hoe dit in ‘n klas of na skoolse-omgewing lyk. Uit ‘n bemarkingsoogpunt word verskeie sportkodes en kultuurkodes ook professioneel uitgebeeld en kan ‘n mens agterkom dat elke terrein, akademie, sport of kultuur, ‘n groot deel van Volkies se hart vorm. Maak seker om hierdie fliek te gaan kyk en te sien waaroor Volkies regtig gaan.

Foto’s: Volkies Potch en Wouter Pienaar

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button