CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Handsakprojek vir mishandelde vroue ʼn groot sukses

Die publiek het hulle harte oopgemaak en handsakke met toiletware geskenk sodat 13 Eenhede vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele oortredings (GKS) in die Noordwes 'n omgeegeskenk aan 'n mishandelde vrou kan uitdeel.

“ʼn Handsak gevul met die nodige toiletware mag dalk na ‘n klein troos klink vir ʼn vrou wat verkrag is of wat van die huis af vlug omdat sy aangerand word. Tog beteken dit vir haar baie omdat dit eintlik ʼn liefdesgebaar is van iemand wat sê sy is steeds geliefd en spesiaal. Hiermee wil die polisie sê hulle gee om”, sê Elmarie van der Merwe wat ʼn hart vir mishandelde vroue het.

Talle vrouens wat mishandel word, beland daagliks by die polisie se Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele oortredings (GKS). Vrouens bly tydelik hier totdat polisieondersoeke afgehandel word.

Danksy die publiek wat hulle harte oopgemaak het,  sal elke vrou by dié 13 GKS-eenhede in die Noordwesstreek ʼn klein geskenkie ontvang – ʼn handsak, gevul met toiletware en klein bederfies. Elke handsak bevat ‘n tandeborsel en tandepasta, seep en waslap, klein handdoek, vaseline, deodorant, snesies, sanitêre doekies, ‘n lekkerny en ‘n pakkie kitssop. Sommige mense het selfs briefies van vertroosting bygevoeg.

Elmarie wat die projek vanaf begin November bestuur het, sê sy was verras met almal se oop harte: “My grootste mikpunt was om 100 handsakke in te samel en toe kry ons sowaar 198 handsakke in totaal!” sê sy opgewonde. Die meeste handsakke is van Potchefstroom geskenk, maar mense sover as Zeerust, Lichtenburg, Klerksdorp en Vanderbijlpark het ook handsakke bymekaar gemaak en aan ons geskenk.

Die handsakke is sedert die begin van Desember uitgedeel en op Donderdag, 10 Desember het die laaste eenhede hulle handsakke in Potchefstroom kom haal.

nwu afr

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button