Volgens astronome sal die planete Jupiter en Saturnus se posisies in die hemelruim op Maandag, 21 Desember, gesien vanaf die Aarde, die naaste aan mekaar in die hemelruim wees. Hierdie verskynsel, wat van die aarde sigbaar is en laas in 1623 voorgekom het, noem wetenskaplikes ‘n groot samevoeging (“great conjuction”).
Dit word ʼn groot samevoeging genoem omdat die twee grootste planete in ons sterrestelsel gelyktydig van die aarde af gesien kan word. Die “ontmoeting” van Jupiter en Saturnus in die hemelruim is ʼn skaars verskynsel omdat dit minder gereeld voorkom as ander planete wat ook op dieselfde manier in lyn beweeg en gelyktydig van die aarde sigbaar is.
Wat Jupiter en Saturnus se samevoeging verder besonders maak, is dat dit vanjaar toevallig op 21 Desember, naby Kersfees, gebeur. Vandaar die verwysing na die twee helder planete as die Kersfeesster. Vir Christene het dit ʼn besondere betekenis omdat dit aan die Betlehemster herinner.
Die datum waarop Jupiter en Saturnus in lyn met die Aarde is, val nooit op dieselfde dag nie. Vanjaar val dit toevallig op die 21ste Desember wat ʼn spesiale dag is omdat dit in die suidelike halfrond as die somersonstilstand (summer solstice) bekend staan. Die somersonstilstand is wanneer dit die langste dag en die kortste nag is. Op dieselfde datum in die noordelike halfrond is dit weer omgekeer en staan dit as die wintersonstilstand (winter solstice) bekend met die nag wat die langste en die dag die kortste is.
Prof. Johan van der Walt, ʼn professor in fisika aan die Noordwes Universiteit, sê dat ons die verskynsel in Suid-Afrika in ʼn noordwestelike rigting (meer wes as noord) sal sien. “Die vlak waarin die planete om die Son beweeg word die ekliptiese vlak genoem en in die suidelike halfrond lê dit tipies na die noordekant toe. Vir mense in die noordelike halfrond sal dit weer na die suidelike kant toe lê.”
Hy het verder goeie raad aan Potchefstromers gegee wat graag moeite wil doen om die groot samevoeging te sien. Indien wolke nie die uitsig sal belemmer nie, kan inwoners uitry op die Eleazerpad. Dié pad draai af net buite die stad vanaf die Ventersdorppad. “Kyk dan uit net na sonsondergang oor die vlakte tussen Klerksdorp en Ventersdorp in ʼn westelike rigting.”
Die ander opsie is om met die Paryspad uit te ry tot op die eerste hoogte en dan in die rigting van Potchefstroom te kyk.
LEES VERDER:
https://www.space.com/great-conjunction-jupiter-saturn-explained
https://www.space.com/jupiter-saturn-moon-near-moon-great-conjunction-2020
https://earthsky.org/astronomy-essentials/great-jupiter-saturn-conjunction-dec-21-2020




