NewsNews

NWU navorsers slagoffers van gewapende roof

Ses gewapende rowers het op Welwillendheidsdag (26 Desember) in Irene, Pretoria, op navorsers van die NWU en hul vriende toegesak en hulle beroof.

Ses gewapende rowers het op Welwillendheidsdag (26 Desember) in Irene, Pretoria, op navorsers van die NWU en hul vriende toegesak en hulle beroof. Die rowers het onder meer duur kameratoerusting, wat altesaam nagenoeg R300 000 werd is, gesteel en in twee van die slagoffers se motors gevlug.

Drie van die ses slagoffers is verbonde aan die NWU – Maryke Schoonen is ‘n na-doktorale genoot by Biochemie, Bertie Seyffert is ‘n PhD-student by Fisika en Liesel Mienie ‘n voormalige meestersgraad student in Biochemie. Saam het hulle met drie ander vriende – Werner Knoll, Elsje Bester en Dylan van Aswegen, ʼn fotosessie gereël. Dit was by die Sesmylspruit, ‘n boomryke area in Jan Smutslaan, naby die Smuts-huismuseum.  

Maryke (32), wat fotografie as stokperdjie beoefen, sê hulle het sommer net vir ‘n lekker “outing” gegaan om hulle kameras uit te toets en die area waar hulle die foto’s geneem het, is glad nie afgesonder nie: “Smutslaan loop parallel met die M18-hoofweg en is ʼn redelike besige area. Daar was gereeld motors wat in Smutslaan verbygery het en voetgangers het op en af in die straat geloop terwyl ons foto’s geneem het. Een van die ander fotograwe, Werner Knoll (34), wat deel van die geselskap was en in Pretoria bly, het al met drie vorige geleenthede daar foto’s geneem”, vertel sy.

nwu afr

Die drie fotograwe, Maryke, Werner en Liesel, het hulle kameratoerusting opgeslaan en was besig om foto’s van hulle vriende, Elsje en Dylan, te neem toe ses mans met Covid-maskers uit verskillende rigtings op hulle afstorm. Maryke vertel dat die rowers te voet was en vuurwapens by hulle gehad het: “Toe hulle op ons afstorm het ek dadelik neergesak op die grond en myself opgekrul in ʼn bondeljie”, vertel sy. Haar vriend, Bertie Seyffert (34), het ook op die grond gaan lê.

Liesel sê dat Werner kalm gebly het en vir die vriendegroep gesê het hulle moet alles doen wat die rowers vra en hulle nie teësit nie. 

Die rowers het hardhandig al die toerusting van die fotograwe afgevat – kameras om hulle nekke afgepluk, juwele van hulle afgehaal en hulle selfone afgevat. “Ek het Elsje jammer gekry, want toe sy sukkel om haar verloofring af te haal, het hulle dit met geweld by haar afgevat”, vertel Maryke.

Liesel vertel dat haar pa ‘n baie goeie fotograaf was en dat sy al die kameratoerusting wat sy van hom geërf het, met die diefstal verloor het. Haar pa het in 2019 gesterf nadat ʼn huisrower hom met ʼn mes gesteek het. “Vir my het die toerusting soveel sentimentele waarde”, sê sy. Die kameratoerusting wat sy verloor het, was ‘n Canon EOS750D, ‘n Canon EOS50D, verskeie lense, ‘n Polaroid filter, ‘n Sigma flitslig en die leer kameraband wat sy vir haar pa se sestigste verjaarsdag laat maak het met sy voorletters PJM en 60 wat daarop gegrafeer is.

Die ses rowers het met al die toerusting, juwele en selfone in Maryke se Volkswagen Tiguan en Werner se Ford Eco Sport gevlug. “Dit was ʼn verskriklike ervaring, almal was so getraumatiseerd”, sê Maryke. Sy vertel dat hulle na die rooftog die eerste motor wat verby hulle gery het, gestop het: “Ons het het die bestuurder vertel wat gebeur het en hy het ons dadelik gehelp om die naaste sekuriteitsmaatskappy en polisie te bel.”

Nadat hulle ʼn verklaring by die Lyttelton polisiekantoor afgelê het, het die polisie dieselfde aand nog die twee gesteelde motors voor ʼn hostel in Tembisa opgespoor. Volgens die polisiewoordvoerder in Gauteng, Mathapelo Peters, word drie sake van onder meer gewapende roof en motordiefstal ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button