Moenie Amira se Afrika Kerskonsert mis nie
Suid-Afrikaners het nog net tot 3 Januarie kans om Amira Willighagen se Kerskonsert wat gestroom word - African Christmas with Amira and Friends - aanlyn te sien.
Suid-Afrikaners het nog net tot 3 Januarie kans om Amira Willighagen se Kerskonsert wat gestroom word – African Christmas with Amira and Friends – aanlyn te sien. Dié konsert is van 12-13 Desember by die Atterbury teater in Pretoria opgeneem en word sedert 23 Desember deur Optog! gestroom.
In Potchefstroom het Amira (16) geen bekendstelling nodig nie. Dié Nederlandsgebore sangeres wat in 2013 bekendheid verwerf het toe sy Holland’s Got Talent in Nederland gewen het, het met haar operastem internasionale gehore aan haar voete. Sy het later met die liefdadigheidsprojek, Stichting Gelukskinders, begin om speelparke vir minderbevoorregte kinders in Ikageng en die omgewing op te rig. Dié Kerskonsert word juis aangebied ten bate van hierdie liefdadigheidsprojek.


Rosa Kleyn, die projekbestuurder van African Christmas, vertel dat 38 kunstenaars en musikante op die verhoog bymekaar gekom het. Van die bekendste kunstenaars is die klassieke/jazz pianis, dr. Charl du Plessis, asook die tenoor, Lukhanyo Moyake en die Mzansi-jeugkoor.

“Dr. Du Plessis is die musiekdirekteur wat tradisionele Kersmusiek verwerk het om daaraan ʼn tradisionele Afrika-aanslag te gee”, sê Rosa. Amira se ondersteuners oorsee het die Kerskonsert asook ekstra geskenke aan kunstenaars wat aan die produksie deelgeneem het, geborg.
Haar ma, Frieda Willighagen, sê dat altesaam meer as ʼn 100 mense aan die produksie gewerk. Dit sluit mense wat handwerkgeskenke gemaak het in. Werklose mense in Potchefstroom is hiervoor ingespan. Die opname was ‘n feestelike geleentheid en die kunstenaars is almal met heerlike kolwyntjies en handgemaakte geskenke bederf. ‘n Vrou van Klerksdorp het die mooi kolwyntjies gebak waaraan almal gesmul het, sê Frieda.

Vir Amira is dié konsert die mees unieke Kerskonsert waaraan sy al deelgeneem het: “Die Afrika-tema is regdeur mooi saamgevat, nie alleen met die musiekverwerking nie, maar ook met die kostuums en dekorasies. Dit was ʼn voorreg om met die res van die kunstenaars op te tree”, sê dié Volkie-leerling van Potchefstroom. Kaartjies vir die konsert kos R150 en is aanlyn beskikbaar by https://optog.co.za/.




