60 jaar met liefde gevul
Hennie en Rensche Maree is twee Potchefstromers wat ‘n groot mylpaal behaal het met hulle 60ste huweliksherdenking op 4 Februarie.
Hennie en Rensche Maree is twee Potchefstromers wat ‘n groot mylpaal behaal het met hulle 60ste huweliksherdenking op 4 Februarie.
Hendrik Johannes Maree en Rensche Aletta Janse van Nieuwenhuizen is op 4 Februarie 1961 deur ds. AD Raats in die NG Kerk Alberton Wes in die huwelik bevestig.

Die paartjie vestig hulle daarna op die plaas Platvlei in die Sannieshof-distrik. Hulle verhuis in Augustus 1963 na die plaas Kareerand in die Potchefstroom-distrik, waar hulle tot April 2015 geboer het.
Hulle woon tans in die Groenwilgers aftreeoord waar hulle baie gelukkig is en goeie versorging ontvang.
Hennie en Rensche se ontmoeting:
Die Van Nieuwenhuizen-gesin van Alberton het van tyd tot tyd by hul Van der Walt-familie wat op die plaas Kyl gebly het, gaan kuier. Tydens van dié kuiers het die Marees van die plaas Makoeiespan ook by die Van der Walts gaan kuier. Die kinders het lekker saam gespeel en later jare het daar ‘n spesiale band tussen Hennie en Rensche ontstaan. Die res is geskiedenis.

Drie kinders is uit die huwelik gebore – Nicolaas, Theodorus en wyle Anita Leus. Hulle het ook vier kleinkinders: Hendrik, Nicolaas, Hendrik en Marike.

Hennie het vir baie jare ‘n gemengde boerdery op die plaas Kareerand en Kromdraai gehad. Hy het onder meer in die kerkraad van die Hervormde Kerk Potchefstoom Suid gedien en was ook by die Transvaalse Landbou Unie (TLU), Burgerlike Beskermingsvereniging en beheerliggaam van Hoërskool JJ Pienaar betrokke.
Rensche was op haar beurt lid van die Vroue Landbou Unie (VLU), die Sustersvereniging van die Hervormde Kerk Potchefstoom Suid en die Potchefstoom Blommeklub.




