NewsNewsSchools

Naamgenoot gee Gimmie motivering

Hoe bly mens gemotiveerd genoeg om agt onderskeidings tydens een van die moeilikste jare te behaal? Vir Minet Beukes (18) van 2020, het Minet Beukes van 2000, inspirasie gebied. “In my Gr.9 jaar het ek ‘n dame wat my naam en van deel, op die skool se prestasieborde vir die jaar 2000 gesien. Sy het …

Hoe bly mens gemotiveerd genoeg om agt onderskeidings tydens een van die moeilikste jare te behaal?

Vir Minet Beukes (18) van 2020, het Minet Beukes van 2000, inspirasie gebied.

“In my Gr.9 jaar het ek ‘n dame wat my naam en van deel, op die skool se prestasieborde vir die jaar 2000 gesien. Sy het sewe onderskeidings in matriek behaal. Aangesien sy my naamgenoot is, het ek gedink dit sal ‘cool’ wees om ook ‘n soortgelyke prestasie te behaal,” vertel sy.

Sy het haar skoolloopbaan met agt onderskeidings aan Hoërskool Gimnasium Potchefstroom voltooi. Sy het hierdie prestasie met Wiskunde, Afrikaans, Engels, Lewensorïentering, Lewenswetenskap, Fisiese Wetenskap, Rekeningkunde en Musiek as haar agste vak, behaal.

“Ek het nie een gunstelingvak gehad nie, ek het van al my vakke gehou omdat elkeen iets anders van my vereis het,” vertel sy. Sy het ook haar ekstra vak, musiek, gebruik as ‘n vorm van wegbreek en ‘n manier om van stres ontslae te raak.

Minet het goeie uitslae behaal, maar die pad was glad nie sonder struikelblokke nie. Die pandemie was vir haar ‘n groot aanpassing, veral so vroeg in haar matriekjaar. “Ek is steeds dankbaar vir die maand of twee wat ek kon skool toe gaan,” bieg sy. Die leerlinge moes binne ‘n week hulle hele idee van ‘n skoolloopbaan verander en vinnig gewoond raak aan die nuwe normaal wat saam met die pandemie gekom het. Sy moes ook aanvaar dat sy nie enige skoolfunksies en aktiwiteite vir die laaste keer sou ervaar nie. Minet het haar nie laat onderkry nie. “Dit is nie klaar tot die byl val nie,” sê sy met ‘n glimlag. Sy glo vas dat die terugslae wat sy tydens hierdie moeilike omstandighede ervaar het, gepaard met die Here se genade, haar as mens bevorder het.

Minet gaan bedryfsingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit studeer. Haar nuwe eerstejaars-avontuur gaan as deel van ‘n nuwe susterskap by Minjonet Dameskoshuis aangepak word. “Dit waarna ek die meeste uitsien, is om ervaringe te deel en om die moeite wat die huiskomitee tydens hierdie tyd gaan doen, te beleef,” sê sy. Na 12 jaar se skool agter die rug sien Minet uit na al die nuwe ervaringe, vriendskappe en geleenthede wat die universiteit en koshuis vir haar inhou.

 

Related Articles

 
Back to top button