Local newsNewsNews

Pa en dogter albei eerstejaars by NWU

Dit is dalk ongewoon dat ‘n pa en dogter op dieselfde tyd vir ‘n graad studeer, maar vir dié leergierige familie maak dit nogal sin.

Een van Promosa se bedrywigste en mees doelgerigte inwoners en gemeenskapleiers, Glenville “Boeda” Fransman, voeg vanjaar nog ‘n taak by sy besige skedule wanneer hy as eerstejaar ‘n B.A. graad in Openbare Bestuur aanpak.

Glenville is nie die enigste Fransman wat ‘n eerstejaar op kampus is nie. Sy dogter Miché (18) is ook ‘n eerstejaar en studeer B.A. Toerismebestuur. Dit is dalk ongewoon dat ‘n pa en dogter op dieselfde tyd vir ‘n graad studeer, maar vir dié leergierige familie maak dit nogal sin.

Miché en Glenville Fransman begin vanjaar as eerstejaars met hulle onderskeie grade aan die Noordwes-Universiteit. Foto: Verskaf

Glenville is tans ‘n senior administratiewe assistent aan die fakulteit Natuurwetenskappe se skool vir mikrobiologie aan die Noordwes-Universiteit en was voor dit ook by die Afstandsleer-afdeling van die NWU betrokke. Sy pad met die universiteit kry nou nog ‘n dimensie met dié dat hy sy werk en studies op kampus sal moet kan delegeer.

“Ek sien baie daarna uit om ‘n graad te kan studeer in ‘n rigting wat ek baie interessant vind. Ek is ook by die politiek betrokke en voel hierdie graad sal vir my meer kennis en geleenthede kan gee om ‘n verskil in die gemeenskap te kan maak en ‘n rolmodel te kan wees,” verduidelik Glenville. Die jeug se welstand lê veral diep in sy hart en hy glo dat hy graag as inspirasie wil dien vir jongmense om ook hulle drome te kan najaag.

“Wat my ook meer trots maak is dat ek nie uit ‘n welaf familie kom wat finansieel stabiel is nie. Ek kon na matriek dus nie studeer nie. Ek sou Grafiese Ontwerp in Gauteng studeer, maar dit het te veel geld gekos. Ek kon nêrens beurse kry vir so ‘n duur studierigting nie,” vertel Fransman, wat nou die geleentheid het om met sy graad nuwe horisonne aan te pak.

“Ek draf nog nie klas met al die toetse en opdragte wat nog aanlyn op Efundi is. Dit verg weeklikse en maandelikse beplanning om te werk en te studeer. Ek vat maar elke ding op ‘n slag,” vertel Fransman. Hy is ook by die Promosa GPF betrokke, ‘n DA raadslid en voorsitter van Promosa Primêr.

Miché is Fransman se tweede oudste dogter en het verlede jaar aan Potchefstroom Gimnasium matrikuleer. Sy is opgewonde dat sy haar pa se raad en bystand eerstehands sal kan ervaar. “Om my pa op bystand te hê is ‘n goeie ding, hoewel hy nie elke dag of altyd saam met my sal wees nie. Ek dink sekere modules sal ons dalk met mekaar kan deel en bespreek en mekaar kan help. Ek dink dis baie cool om te weet hy is saam met my op kampus,” sê Miché.

“Ek sien uit na ‘n nuwe begin (lewe na matriek), om goeie resultate te kry, om die studentelewe te ervaar, deel te neem aan verskeie aktiwiteite wat die universiteit aanbied, die lewe ‘n beter plek te maak deur ‘n glimlag te deel en natuurlik nuwe maats te maak,” brei sy opgewonde uit. Miché, nes haar pa, het ook groot doelwitte en glo dat die Here se wil haar sal lei. “As dit die Here se wil is, wil ek graag ‘n dosent in Besigheidstudies word, en ook om as sielkundige, ‘n ekstra werk te doen.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button