SportSport

NWU skuif fokus na Shimlas

Die Potchefstromers kom Donderdag, 8 April om 19:00 teen die Shimlas op Loftus Versfeld te staan en sal sake teen Tukkies Sondag, 11 April om 17:00 uitspook.

Die Noordwes-Universiteit Arende het die afgelope Maandagmiddag hulle vlerke gespan en kloue vir die NMU-Madibaz gewys om met ‘n 47-28 oorwinning die 2021 Varsitybekertoernooi af te skop.

Na ‘n intense eerste 60 minute waar albei spanne kop aan kop was, het die NWU se plaasvervangers die nodige gedoen en die laaste 20 minute oorheers met drie drieë om die wind uit die Madibaz se seile te haal.

Die Madibaz het hulle bes gedoen om die appelkar om te gooi en ‘n verrassing te veroorsaak met die losskakel, Tiaan Schutte en flank, Arnouw Nel wat uitgestaan het. Op die ou einde het hulle net te min skietgoed gehad.

Die manne in pers het sewe drieë op die dag ingepalm, wat ‘n kombinasie van voorrykrag sowel as skerp taktiese agterlynbewegings ingesluit het. Twee drieë wat uitstaan is die van linkervleuel, Pienaar van Niekerk en plaasvervanger-heelagter, Meyer Kriel.

Van Niekerk het ‘n puik kruisskop van losskakel, Marco Donges, uit die lug uit gevang en in een beweging oor die doellyn geduik sonder dat ‘n vinger op hom gelê is. Kriel het ‘n sewe-punt drie gaan druk nadat hy die agterlynbeweging in die NWU se helfte begin het.

Kriel het die bal vir Van Niekerk aangegee wat twee verdedigers ontwyk het en toe weer vir eersgenoemde gegee het om in die hoek te gaan druk. As die NWU aanhou om sulke hardlooprugby te speel, dan sal daar nog baie drieë vir die res van die toernooi te sien wees.

Die NWU haker, Gustav du Rand, het ‘n puik wedstryd beleef waar hy twee drieë gaan druk het. Sy eerste een na ‘n slim voorafbeplande lynstaanbeweging en die tweede een op ‘n broodnodige tyd vanaf ‘n rolmaalbeweging. Du Rand se fisiekheid en akkuraatheid by die lynstane was ook van die sterkpunte in sy tyd op die veld. Ander uitblinkers vir die NWU op die dag sluit in binnesenter, Conan le Fleur, sowel as die stutte, Ruben du Plessis en Botter Moloto wat die skrums oorheers het.

Die NWU skuif nou hulle fokus na die Shimlas en dan Tukkies in die tweede en derde rondtes van die Varsitybeker wat hierdie week sal plaasvind. Die Potchefstromers kom Donderdag, 8 April om 19:00 teen die Shimlas op Loftus Versfeld te staan en sal sake teen Tukkies Sondag, 11 April om 17:00 uitspook.

Die Shimlas het hulle eerste wedstryd gelykop met 28-28 teen die Universiteit van Wes-Kaapland gespeel, maar sal steeds ‘n gedugte teenstander vir die NWU in ‘n tradisionele derbywedstryd wees. NWU se hoofafrigter, André Pretorius was bly oor sy span se bonuspunt-oorwinning maar weet dat daar nog baie aan afronding gewerk moet word.

“Ek is bly oor al die drieë wat ons kon druk, maar ons het op tye onnodig druk op onsself gesit met strafskoppe wat byvoorbeeld nie uitgeskop word nie. Dit was die eerste wedstryd in die bio-borrel, maar ons het nog baie om aan te werk, veral met die afronding,” beaam Pretorius. “Ons moet meer klinies wees met die bal in die volgende wedstryde teen die Shimlas en Tukkies,” voeg hy by.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button