Onderwysdepartement stel eerste vroulike adjunkhoof by Gimmies aan
Die onderwysdepartement het vir die eerste keer in die geskiedenis ‘n vroulike adjunkhoof by Gimmies aangestel.

Die onderwysdepartement het vir die eerste keer in die geskiedenis ‘n vroulike adjunkhoof by Gimmies aangestel.
Christine Pienaar se aanstelling as akademiese adjunkhoof is met ingang 1 Mei, nadat die vorige adjunkhoof, Johan Benson, bedank het.
Dit is byna vreemd om te dink dat iemand wat uiteindelik so ‘n hoë pos in die onderwys beklee, aanvanklik glad nie onderwys as ‘n beroep oorweeg het nie. Christine is ‘n tipiese wiskundige en rekeningkundige wat haar lewe noukeurig vooraf beplan, maar sy het gou geleer dat dinge soms oor jou pad kom wat jou rigting verander. Onderwys het eintlik toevallig op haar pad gekom.
“Toe ek aanlegtoetse op skool geskryf het, het ek maar twee uit 10 vir onderwys gekry,” lag sy. Sy het gedink sy sal ‘n baie kwaai onderwyseres wees omdat sy nie regtig in die grys areas van die lewe geglo het nie. Vir haar was ‘n ding óf reg óf verkeerd.
Nadat sy ‘n BSc-graad met wiskunde en ekonomiese vakke aan die Puk behaal het, het sy eers as rekenaarprogrammeerder gewerk. ’n Krisis by haar ou hoërskool in Wolmaransstad het haar genoop om uit te help. “Die skoolhoof van Wolmaransstad het my gevra of ek nie asseblief as graad-11 wiskunde onderwyser sal uithelp totdat hulle ‘n plaasvervanger kry nie. Op daardie stadium was my broer in graad-11 en het ek besluit dat ek hom nie in die steek kan laat nie,” vertel sy. Sy voeg ook by dat sy nogal ‘n swakheid het vir ‘n goeie uitdaging en dat sy nie die versoeking kon weerstaan nie.
Die leerlinge se positiewe houding teenoor haar na die paar maande wat sy skoolgehou het, het haar weer laat dink oor onderwys en sy het die jaar daarna vir ’n onderwysdiploma ingeskryf. Sy het op Zeerust skoolgehou en het later saam met haar man na Bloemhof verhuis toe hy bevordering gekry het. Hy was ook in die onderwys.
Op daardie stadium is hul tweede dogter gebore en het sy ‘n ruskans geneem. Haar man is toe met kanker gediagnoseer en is skielik oorlede. Christine het besluit om Potchefstroom toe te verhuis. Sy het eers as wiskunde- en rekeningkunde onderwyseres by byna al die hoërskole afgelos voordat sy in 1992 ‘n permanente pos as onderwyseres by Gimmies aanvaar het.
In 2005 het sy departementshoof geword vir ekonomiese vakke en in 2010 het sy ‘n interne aanstelling gekry as adjunkhoof vir akademie. Dié aanstelling is gemaak deur die skool se beheerliggaam. Gimmies het drie adjunkhoofde – vir sport, koshuis en akademie.
Christine sien haarself as ’n moederfiguur by Gimmies en wanneer jy verder met haar gesels, besef jy sy vertolk hierdie rol met waardigheid. Met haar toeganklikheid en saggeaarde persoonlikheid bied sy ondersteuning aan die leerlinge en onderwysers. Sy kry dit reg dat hulle in hulself glo en mylpale bereik wat hulle nooit gedink het hulle kan doen nie.
Christine het haar pos as adjunkhoof op een voorwaarde aanvaar en dit is om steeds skool te hou. “Ek wil steeds kontak hê met die leerlinge en my liefde vir my vakgebied aan hulle oordra,” beklemtoon sy.
Sy spot met haar planmatigheid en hoe die onderwys haar net nie wil los nie. “Ek was eintlik van plan om einde volgende jaar af te tree, maar met die nuwe aanstelling het die Here besluit ek het nog bydraes om te maak,” sê sy.