CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Nuwe hoof by ES le Grange het omgee-hart vir spesiale kinders

Die Onderwysdepartement het Michelle Jerling Vrydag, 16 April amptelik as die nuwe hoof van ES le Grange skool aangestel. Dié skool is een van die grootste skole vir verstandelik- en liggaamlik gestremde leerlinge in die Noordwes wat nie in ʼn hoofstroomskool kan funksioneer nie.

Die Onderwysdepartement het Michelle Jerling Vrydag, 16 April amptelik as die nuwe hoof van ES le Grange skool aangestel. Dié skool is een van die grootste skole vir verstandelik- en liggaamlik gestremde leerlinge in die Noordwes wat nie in ʼn hoofstroomskool kan funksioneer nie.

Michelle spot dat haar aanstelling vars is en dat dit nog moet insink dat sy die nuwe hoof is. Sy en Fanus Wiese was twee adjunkhoofde wat vir die afgelope drie jaar die skool saam bestuur het nadat die vorige hoof, Reinette van Graan, afgetree het. “Poste by hierdie skool is maar skaars omdat almal wat hier werk ook hier aftree. Die personeel is so gelukkig hier dat hulle nie wil weggaan nie” sê Michelle ter wyl sy breed glimlag. Sy het elf jaar gelede self  ʼn aanstelling as ʼn onderwyseres by ES le Grange gekry juis toe iemand afgetree het.

Michelle is ʼn raakvatter en haar borrelende, positiewe persoonlikheid is aansteeklik. Selfs ʼn blou Maandag met al die gate in die paaie lyk nie meer so erg as jy eers met haar gesels het nie.

Sy het van die begin af in haar onderwysloopbaan ʼn hart vir kinders met spesiale behoeftes gehad. Haar eerste pos na haar onderwysopleiding aan die Noordwes Universiteit was sy ‘n graad-1 onderwyseres by Strathvaal Laerskool in Stilfontein.  Daarna het sy ʼn aanstelling by Berts Bricks plaasskool gekry. Sy het lank daar uitgehelp voordat iemand by ES le Grange bedank het. “Ek het ʼn besondere sagte plek vir kinders wat sukkel, hetsy met taal of op enige ander vlak. My ma het by ʼn spesiale skool in Johannesburg gewerk waar ek vroeg reeds met kinders in aanraking was wat spesiale aandag nodig gehad het. Hulle is eintlik presies soos ons. Ek sien nie eens meer die verskil tussen ons en hoofstroomleerders raak nie”, sê Michelle.

Sy sê verder dat gestremde kinders maar soos enige ander persoon behandel wil word en dat die publiek nie moet skaam wees om na hulle uit te reik nie “Hulle hou baie daarvan as mense met hulle gesels en grappies maak”, sê Michelle.

Sy hou ook nie daarvan om die term intellektueel gestremd te gebruik nie. “Ek verwys na ES le Grange as  ʼn spesiale skool omdat ons met kinders werk wat spesiale onderwysbehoeftes het. Ons is nie ʼn versorgingseenheid nie. Ons is net soos enige anders skool waar ons voorbereiding doen, werk, assesseer, konsert hou en sport beoefen”, benadruk Michelle.

Die ingang van ES le Grange skool in Baillie Park. Foto: Venessa van der Westhuizen

Sy vertel verder dat die leerlinge verskil van die hoofstroomskole omdat dit só lekker is om hulle te werk. “Hulle geniet dit om skool toe te kom. Dit is vir hulle ʼn veilige omgewing waar hulle kan huil en lag en ʼn drukkie van hulle juffrou kry.”

Michelle gesels entoesiasties oor die skool wat sy bestuur. ES le Grange is ʼn laer- en hoërskool waar 402 leerlinge tussen die ouderdomme van 6 tot 18 jaar geakkommodeer word. Daar is 153 personeel wat die koshuispersoneel insluit. Die klasse wissel van 10 tot 15 leerlinge per klas. Wanneer jy in berekening bring dat een leerling die gewig van 3.6 leerlinge dra, is dit regtig ʼn groot skool.

Onderwysers werk saam met ʼn ondersteuningspan soos mediese personeel, arbeidsterapeute en ʼn sielkundige wanneer hul ʼn moeilike leerling in die klas het. “Onderwysers wat hier skoolhou is gebore vir hulle taak. Jy kan nie leer om met gestremde kinders te werk nie. Jy kan dit net doen.

ʼn Onderwyser hier moet besonder oplettend, aanpasbaar, geduldig en liefdevol wees. Hulle moet die ekstra myl met ʼn ouer kan stap”, sê Michelle. Hier pas die onderwyser sy onderrigprogram by die kinders aan. Wanneer ʼn kind aggressief of ontsteld is, word die program volgens die behoefte van die kind aangepas, want ons het fleksietyd wat ʼn hoofstroomskool nie het nie.

Michelle sê die skool stap nie net ʼn pad met die leerlinge nie, maar met die ouers ook. “Die eerste keer as ʼn ouer ʼn kind hiernatoe bring is hy ongelooflik bang om sy kind na ʼn spesiale skool toe te bring. Ouers wil dit nie doen nie. Die pad wat ouers stap voordat hulle ‘n kind by ES le Grange inskryf is ʼn belangrike pad. Daai ouer het nog altyd hoop vir sy kind. Die oomblik wat ʼn kind ʼn spesiale skool gesit word, is dit amper asof die hoop weggevat word. Maar wat so ʼn ouer nie besef nie, is dat ʼn kind se lewe dan eers begin. En wanneer die kind in die skool is en die ouers sien hoe gelukkig hulle kind is, vra hulle hulleself af hoekom hulle dit nie al jare gelede gedoen het nie.”

Michelle sê dat die land ʼn groot tekort het aan spesiale skole wanneer jy die 382 leerlinge in ag neem wat op die waglys is. “Kinders wat eers in ʼn hoofstroomskool was en nou hier by ons is, floreer en is baie gelukkig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button