“Verkeerde persoon aangekla,” sê advokaat
Adv. Dali Mpofu, Thandi Modise se advokaat, het (volgens seksie 174) aangevoer dat die hofsaak ontslaan moet word omdat Modise nie direk tot die saak verbind kan word nie. Mpofu het gesê dat die aanklaers nie daarin kon slaag om te bewys dat Modise doelbewus die diere mishandel het nie omdat sy nie eens van die gebeure op die plaas bewus was nie.
Adv. Dali Mpofu, Thandi Modise se advokaat, het Donderdag (29 April) in die Potchefstroom streekhof gesê dat Modise nie vir dieremishandeling aangekla moet word nie, maar dat die plaaswerker Tebogo Mokaedi die skuld moet kry omdat hy die plaas verlaat en die diere sonder kos in die krale toegemaak het.
Hy het, aangevoer dat die saak ontslaan moet word omdat Modise nie direk tot die saak verbind kan word nie. Mpofu het gesê dat die aanklaers nie daarin kon slaag om te bewys dat Modise doelbewus die diere mishandel het nie omdat sy nie eens daarvan geweet het dat die diere toegemaak en alleen agtergelaat is nie.
Drie mense het getuig sedert die hofsaak van Thandi Modise Woensdag weer hervat het. Tebogo Mokaedi, die werker wat omgesien het na die diere op Thandi Modise se plaas en die veearts, dr. Sameer Abbas wat bewysstuke op Modise se plaas versamel het, het Woensdag getuig. Khoroba Thloale, Mokaedi se vriend wat vir hom die werk op die plaas gereël het, het Donderdag getuig.
Thandi Modise, speaker van die parlement, word deur AfriForum, namens die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV), privaat vervolg nadat die nasionale vervolgingsgesag besluit het om dit nie te doen nie omdat daar nie volgens hulle genoeg bewyse was nie. Die hofsaak spruit uit die voorval waarin diere in haglike omstandighede in Julie 2014 op Modise se plaas Modderfontein buite Potchefstroom gevind is. Tientalle diere het reeds van die honger gevrek en die NDBV moes 224 van kant maak.
Dr. Sameer Abbas, ʼn veearts van Potchefstroom, het Woensdag van die haglike toestand op die plaas getuig en gesê dat die varke, bokke en skape op die plaas baie verswak was. Foto’s van die diere het mense in die hof geskok. Abbas het gesê die diere het spierverlies gehad en gesukkel om te staan. Die diere en die karkasse het tekens van wanvoeding getoon. Volgens hom het ontbinde oorblyfsels van diere getoon dat dit so lank as 18 maande tevore gevrek het.
Tebogo Mokaedi wat as plaaswerker oor die tydperk gewerk het, het getuig dat hy R30 per dag as loon sou ontvang wat nooit gebeur het nie. In die tydperk wat hy op die plaas was, was daar net een keer dierevoer afgelewer. Toe die diere se voer vir die tweede keer opraak en kos nie afgelewer word nie, het hy Thloale gebel om te sê hy gaan die plaas verlaat omdat hy nog geen salaris ontvang of self kos het om te eet nie. Hy het gesê dat hy die diere toegemaak het om te keer dat hulle oor die heinings sal spring.
Khoroba Thloale, die persoon wat vir Mokaedi die werk op Modise se plaas gereël het, het getuig hoe hy vir Mokaedi die werk gekry het. ʼn Sekere Wendy het hom gebel om te hoor of hy iemand ken wat op Modise se plaas kan werk aangesien die huidige plaaswerker, Shadrack, vir gesinsredes terug Zimbabwe toe moes gaan. Wendy was Modise se sekretaresse toe sy die premier van die Noordwes was.

Thloale het getuig dat hy Mokaedi na Modise se plaas geneem het. Hy het vertel hoe Shadrack vir Mokaedi die plaas en diere gewys het en dat Wendy vir Mokaedi R200 gegee het om kruidenierware te koop.
Thloale het ook getuig dat hy toe opgemerk het dat die varke baie maer was. Shadrack het gesê dat hy die varke elke tweede dag kos gee sodat die kos langer kan hou. Thloale het toe vir Mokaedi gesê hy moet die diere daagliks kos gee.
Thloale het getuig dat hy Mokaedi op die plaas besoek het nadat die voer, waarvoor hy die eerste keer gebel het, afgelaai was. Mokaedi het vir hom die faktuur gewys. Hoewel hy nie die bedrag presies kon onthou nie, het hy gedink die bedrag was groot genoeg dat die voer twee maande sou hou. Hy het getuig dat Mokaedi na 2-3 weke weer gebel het om te sê die voer was klaar en dat hyself honger ly. Hy het probeer om Wendy weer te bel dat voer afgelewer moes word, maar kon haar nie opspoor nie.
Adv. Gerrie Nel het aan Thloale gevra of hy die diere op die plaas getel het, die voer getel het en of weet hy weet hoeveel kos varke daagliks eet. Thloale het erken dat hy nie geweet het presies hoeveel diere daar was of die voer getel het nie. Hy het ook nie geweet hoeveel kos varke daagliks eet nie.
Die saak duur Vrydag voort.




