Eikelaan-inwoner bekend vir sy vetties
Johannes (Vaatjie) Swanepoel (71) is bekend vir sy pragtige waterwyse tuin by Huis Eikelaan. Die kaktusse, aalwyne en vetplante gedy in sy voor- en agtertuin.
Johannes (Vaatjie) Swanepoel (71) is bekend vir sy pragtige waterwyse tuin by Huis Eikelaan. Die kaktusse, aalwyne en vetplante gedy in sy voor- en agtertuin. Die bestuur van die aftreeoord het selfs vir hom ekstra beddings op die perseel gegee waar hy na hartelus sy plante en mooi versameling ysterdiere uitstal. Johannes, ‘n afgetrede skoolhoof en sy vrou Leona, woon al nege jaar in Huis Eikelaan. Hy het die Herald genooi om foto’s te neem voor die winter behoorlik toetree.
Wanneer jy deur sy tuin stap, beweeg jy op paadjies wat jou tot naby die plante en diere neem. Die tuin het verder karakter met die pragtige klei uile en ysterdiere soos aasvoëls, vlakvarke, hoenders en volstruise wat hy tussen die plante uitstal. Groot bakke met verskillende groottes klippe en botterklappers wat hy optel wanneer hy en sy vrou reis, dra by tot die verskillende teksture en mooi kleure in die tuin.
Johannes praat liefderik van die vetplante as sy vetties. Hoewel die meeste spesies in sy tuin redelik gehard is teen die koue, is daar ander sagter variante se blare wat heeltemal verlep en wegkwyn wanneer die temperatuur onder vriespunt daal. Dit gebeur gewoonlik wanneer die blare baie water stoor en uitsit wanneer dit vries. Johannes se raad in die winter is om die tuin nie te veel water te gee nie en kans te gee dat die beddings goed uitdroog voordat jy weer natmaak.






