Kultuurorganisasies vier Jeugdag met kranslegging by die konsentrasiekampterrein
Wie sou kon dink dat die proklamasie van die Verskroeideaardebeleid wat amptelik op 16 Junie 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog deur Lord Roberts ingestel is, later vir die dood van 22 000 kinders in konsentrasiekampe verantwoordelik sou wees?
Wie sou kon dink dat die proklamasie van die Verskroeideaardebeleid wat amptelik op 16 Junie 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog deur Lord Roberts ingestel is, later vir die dood van 22 000 kinders in konsentrasiekampe verantwoordelik sou wees?
Dit was Horatio Kitchener wat die Verskroeideaarde-beleid later uitgebrei het. Altesaam 27 000 vroue en kinders is aan die einde van die oorlog in konsentrasiekampe dood. Volgens S.E. Duff, geskiedkundige wat navorsing oor kinders in die oorlog gedoen het, was die sterftesyfer van swart kinders in die konsentrasiekampe ook baie hoog. “Persentasiegewys was dit dalk selfs erger: Na raming was 5 160 – meer as 80% – van die 6 345 sterftes wat tussen Junie 1901 en Oktober 1902 in swart kampe in die Transvaal aangeteken is, dié van kinders.” (Grundlingh & Nasson, 2013).
Met dié skrikwekkende statistieke het die FAK vanjaar ‘n beroep op kultuurorganisasies regoor die land gedoen om die talle kinders wat in die konsentrasiekampe dood is, se lewens te herdenk. Jeugdag word in Suid-Afrika op 16 Junie gevier en is ‘n openbare vakansiedag. Die meeste Suid-Afrikaners herdenk die tragiese dag in 1976 toe meer as 176 mense, waarvan die meeste kinders was, tydens ‘n opstand in Soweto deur die polisie doodgeskiet is.


In Potchefstroom het Heritage Potchefstroom Erfenis (HPE) saam met die Voortrekkers en lede van AfriForum by die konsentrasiekamp gedenknaald kranse gelê ter nagedagtenis aan die kinders wat tydens die oorlog gesterf het. Dié gedenkteken is in 1915 amptelik deur Nonnie de la Rey, genl. Koos de la Rey se vrou, geopen. Ds. Fanus Hansen van NG gemeente Oos het ‘n roerende boodskap met die opening van die kranslegging gelewer en almal herinner hoe belangrik dit is om ‘n lig vir die wêreld te wees en ander belangriker as jouself te ag.

Na die opening het Johan Wolfaardt, voorsitter van HPE, aan die toeskouers vertel hoe die konsentrasiekamp in Potchefstroom daar uitgesien het. Ongeveer 968 kinders is in die Potchefstroomse konsentrasiekamp dood. Aan die einde van die interessante vertelling het kinders en volwassenes blomkranse by die monument neergesit.

Wat was die Verskroeideaardebeleid? Nadat die proklamasie van die Verskroeideaardebeleid aangekondig is, is byna al die Boere se plaashuise verbrand, vee doodgemaak, lande verbrand en vroue en kinders na konsentrasiekampe gestuur. In die kampe was daar onvoldoende kos en mediese dienste en duisende vroue en kinders het in hierdie kampe gesterf.




