Maak seker jy betaal nie te veel vir gas nie
Min mense weet dat Vloeibare Petroleum Gas (VPG) ‘n energiebron is wat deur die department van energiesake gereguleer word. Die prys van gas is dus vasgestel en verskaffers mag nie meer as die vasgestelde prys hef nie.

‘n Oplettende inwoner van Potchefstroom het besef dat hy R58,56 te veel betaal het vir ‘n 9kg bottel gas wat hy ingeruil het.
Hy het eers gedink die gas se prys het aansienlik gestyg, aangesien hy ‘n paar maande gelede laas gas gekoop het. Groot was sy verbasing toe die maksimum prys vir gas in Zone 9 C (wat Potchefstroom insluit) op R27.21 per kilogram vasgestel is. Hy moes dus niks meer as R244.89 (BTW ingesluit) betaal het nie. Dit het beteken dat die vulstasie hom met 24% oorverhaal het.
Die Herald het ses verkoopspunte genader, waaronder vulstasies en winkels, waarvan vier plekke meer as die vasgestelde prys gehef het. Die pryse het gewissel van R248, R268, R287 en R303.45 per 9 kg bottel gas.
Min mense weet dat Vloeibare Petroleum Gas (VPG) ‘n energiebron is wat deur die department van energiesake gereguleer word. Met die huidige beurtkrag wat die land lamlê, gebruik meer mense gas en moet hulle daarom ingestel wees op die korrekte prys. Arm mense in landelike gebiede wat nie toegang tot elektrisiteit het nie, word ook so uitgebuit.
Volgens die regering is die oorskryding van die vasgestelde prys van gas ‘n ernstige oortreding en diegene wat dit verontagsaam kan groot boetes (maksimum R1 miljoen) en/of tronkstraf (maksimum 10 jaar) opgelê word.
Die oplettende inwoner het intussen na die vulstasie by wie hy die duur gas gekoop het teruggegaan en het die verskil in prys terug geëis. Hy het ook ‘n brief aan die Noordwes inspekteur van die departement van minerale en energiesake, Gomolemo Molokele, geskryf om te versoek dat die saak in Potchefstroom verder ondersoek word.




