CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Kragkabels na ses maande nog nie behoorlik geïnstalleer

Die JB Marks munisipaliteit ignoreer navrae van die publiek en media wat vrae stel rondom voorgeskrewe maatreëls rondom elektrisiteit.

‘n “Tydelike” kragkabel wat die munisipaliteit op 13 Desember 2020 by Maroelastraat 3a geïnstalleer het en oorhoofs na ‘n huis aan die oorkant van die straat (Maroelastraat 6) herlei het, is steeds nie behoorlik aangelê nie.

‘n Elektriese inspekteur, voorheen in diens van die munisipaliteit, sê so ‘n kragkabel is nie onwettig nie, maar is nie die ideaal nie. Volgens hom word hierdie tipe herleidings slegs in ‘n noodgeval gedoen wanneer die aansluiting by ‘n erf foutief is. In die verlede was soortgelyke tydelike herleidings binne drie dae, hoogstens ‘n week, verwyder en is kragkabels op die voorgeskrewe manier aangelê.

Die inwoner van Maroelastraat 3a, Friedemann Essrich, sê die elektrisiteitsrekening van Maroelastraat 6 is sedert Desember op sy rekening belas. Dié probleem is eers in Maart vanjaar aangespreek nadat drie munisipale elektrisiëns veranderinge aangebring het sodat elke huiseienaar afsonderlik vir hulle krag kan betaal. Essrich sê dat hy sover net ‘n gedeelte van sy geld teruggekry het. Volgens hom is dit nou ses maande sedert die tydelike kragkabel in werking is.

Die bestuurder van ‘n groot vervoertrok het net betyds gestop of hy het die kabel uitgerug. Foto: Verskaf

“Die munisipaliteit wend geen poging aan om met my hieroor te kommunikeer nie,” vertel hy. Essrich het sover vyf eposse – op 16 Desember 2020, 12 Februarie, 8 Maart, 19 Mei en 30 Junie – na die hoof van tegniese dienste, Jack Monnakgothu en die hoof van elektrisiteit, Michael Maki, gestuur waarin hy wou weet wanneer die tydelike kragkabels behoorlik aangelê sal word. Hy het op 2 Junie slegs een epos van Joey Myburgh, Monnakgothu se persoonlike assistent, ontvang waarin sy sê dat sy wel Essrich se epos vir Henk Klopper aangestuur het en dat hy ondersoek sal instel. Volgens Essrich was Myburgh nog elke keer baie behulpsaam.

Die Herald het ook op 4 en 30 Junie ‘n epos in verband met die kragkabel aan William Maphosa en Maki gerig waarop hulle nie gereageer het nie.

Essrich sê die oorhoofse kabels is gevaarlik. Groot vervoertrokke wat in die straat ry het al ‘n paar keer die kragkabel nouliks getref. Hy is teleurgesteld en mismoedig met die stadsraad se gebrek aan kommunikasie en skryf die swak bestuur toe aan werknemers wat nie aanspreeklik gehou word nie. “Daar is geen gevolge vir mense wat nie hulle werk doen nie, daarom is daar geen dienslewering by die munisipaliteit nie”, sê Essrich.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button