Ma se stryd teen kanker moedig Mej. Kampus aan om welstandveldtog te begin
Mej. Potchefstroom Kampus (2021), Caylé Potgieter, het vir die eerste keer besef hoe belangrik geestelike, emosionele en fisiese welstand is toe haar ma, Belinda van der Westhuizen, aan die einde van 2019 met breinkanker gediagnoseer is.
Mej. Potchefstroom Kampus (2021), Caylé Potgieter, het vir die eerste keer besef hoe belangrik geestelike, emosionele en fisiese welstand is toe haar ma, Belinda van der Westhuizen, aan die einde van 2019 met breinkanker gediagnoseer is.
Belinda se worstelstryd met dié gevreesde siekte het Caylé tot in haar diepste wese geraak. Sy het grootliks haar ma versorg en was haar steunpilaar. Dit was vir haar ontstellend om te sien hoe haar eie ma se geestelike, emosionele en fisiese welstand stelselmatig agteruitgaan nadat sy met haar behandeling begin het.
Belinda se lyding het Caylé gemotiveer om met ‘n veldtog genaamd MEP (Mental, Emotional and Physical wellbeing) te begin. Sy het haar ondervinding as model gebruik om die veldtog van die been af te bring.
Caylé is beeldskoon en met haar sensuele gelaatstrekke en uurglasfiguur was sy al vanaf negentienjarige ouderdom ‘n model vir groot name in die modewêreld soos Guess, Freddy Jeans, Fila, Steve Madden, Call it Spring, Aldo en Pretty Jane. Tog sien sy haarself nie rêrig as ‘n model nie. “Ek sien my modelwerk as ‘n voorreg om interessante mense te ontmoet en mooi plekke te besoek maar ek is steeds dieselfde Caylé wat mal is oor visvang, braai en tyd wat ek saam met my familie spandeer. Ek prys die Here vir my geleenthede, want sonder Hom sou ek nêrens gewees het nie” sê Caylé.

Sy was in 2019 in haar eerste jaar op universiteit as Mej. Eikenhof gekroon. Daarna het Mej. Patria July gevolg en in 2020 het sy die kroon as Mej. Kampus gekry.
Caylé onthou nog die eerste simptome van die tumor – haar ma het intense hoofpyne gekry. “Toe geen medikasie meer wou help nie en sy eendag van die pad af moes trek omdat die hoofpyn haar sig aangetas het, het sy ingestem om ‘n spesialis te besoek”, vertel Caylé. “Ek onthou nog toe my broer my by die koshuis bel om die slegte nuus oor te dra – breinkanker. Ek het eers inmekaargesak van skok, maar het met ondersteuning van my vriendinne, myself reggeruk en dadelik na my ma toe gery”, sê sy. Dié pragtige derdejaar LLB-student het na haar ma se skokdiagnose vinnig groot geword.
Belinda het sover ses delikate operasies ondergaan waar daar onder meer ‘n gedeelte van haar kopbeen in haar voorkop verwyder moes word. Haar skedel is later met mediese sement herstel. “Ek het met die laaste operasie my net eenvoudig nie aan die reëls gesteur dat geen besoekers by pasiënte toelaat mag word nie. Ek het kort voor die operasie deur ontvangs gehardloop, met die sekuriteit kort op my hakke, en het my ma omhels en vir haar gebid. Ek was nie seker dat dit die laaste keer was dat ek my ma sou sien nie. Een van die susters het nog ‘n foto van ons geneem”, lag Caylé nou oor haar voortvarendheid.

Caylé se ma het haar geïnspireer om met die MEP-veldtog te begin. “Ek het eerstehands ervaar hoe my ma se geestelike, emosionele en fisiese gesondheid begin wegkwyn het. Sy het haarself onttrek en in ‘n donker kamer gesit, haar gemoed was af en sy kon nie meer gewone take verrig nie.”
Caylé het haar met die eenvoudigste take gehelp – om badkamer toe en terug te loop, met bad en hare was. Belinda se siektetoestand het nie net haar eie welstand aangetas nie, maar ook die hele gesin s’n. “Ek het besef dat al drie die aspekte (geestelike, emosionele en fisiese) in jou lewe ewe veel aandag moet geniet om ‘n gebalanseerde lewe te kan lei.
MEP se eerste twee letters spel ME wat beteken dat ekself ‘n verskil in ander se lewe kan maak. Caylé het besluit om uit haar gemaksone te beweeg en het betrokke geraak by Pathways in Roodepoort waar sy met geestelik en fisies gestremde kinders werk. Sy werk spesifiek met outisiese kinders wat sukkel om te kommunikeer. “Ek besoek hulle gereeld en is net hulle maatjie wat hulle aanvaar nes hulle is sonder enige voorwaardes”, vertel sy. Sy speel fisiese speletjies en doen eenvoudige oefeninge met die kinders wat fisies gestremd is.

Verder is sy ook betrokke by die Tears Foundation wat slagoffers van geslagsgebaseerde geweld bystaan. Hier het sy ook ‘n Instagram-blad @mep wellness begin waar sy tweedehandse klere verkoop en die wins aan die Tears Foundation skenk.Caylé glo dat almal by welsynswerk betrokke moet wees omdat dit ‘n mens gelukkiger maak as jy gee. “Ek het met hierdie werk meer genade in my lewe gesien. Ek sien die Here se hand in alles en het later besef dat ek die kinders méér nodig het in my lewe as wat hulle my dalk nodig het”, sê sy.
Caylé is steeds met haar LLB-studies besig en is bevoorreg om met die aanlyn-klasdraf meer tyd by haar ma te spandeer. Belinda is besig om goed te herstel na al die behandelings en operasies. Intussen is Caylé en Matthew Smith, mnr. Potchefstroom Kampus, besig om hulself gereed te maak vir Mnr. en Mej. Kampus Suid-Afrika waar die menere en mejuffrouens van universiteite regoor die land aan die einde van die jaar sal meeding.




