Die talentvolle Potchefstroomse gholfspeler, Christiaan Burke, het op Saterdag, 3 Julie, na ‘n ongelooflike rondte gholf dit reggekry om die baanrekord by die Potchefstroom Buiteklub te breek.
Burke (20) het oor 18 puitjies ‘n telling van 56 behaal wat 16 houe onder die baansyfer is. Hierdie voormalige Volkie-leerder en een van SA se opwindenste amateurgholfspelers, het in hierdie rondte agt voeltjies, vier arende en ses houe teen baansyfer aangeteken.

Burke, wat tans die die negende posisie onder mans amateurspelers in Suid-Afrika beklee, is natuurlik in die wolke na sy prestasie.
Hy noem dat hierdie rekord amper nie gebeur het nie, aangesien dit hy saam sy broer, Johann, en sy beste vriend, Christiaan Zietsman, op die ingewing van die oomblik besluit het om te gaan speel.

“Dit is ‘n amazing gevoel en om dit saam my boetie en beste vriend te kon doen maak dit net nog meer spesiaal. Dit is eintilk ‘n baie snaakse storie omdat ons 20 minute voor afslaantyd eers besluit het om te gaan speel. Ons maak toe vinnig reg en kom by die baan aan 2 minute voor die afslaantyd,” noem Burke.
Sake het al vroeg belowend vir Burke gelyk toe hy voeltjies op die 1ste 2de en 4de en arende op 3de en 5de puitjies aangeteen het.

“Ek het toe vir my boetie gesê dat ek my beste gaan gee om die baanrekord te breek en toe van daar af het ek my alles gegee.” Burke het die vorige maand die Big Easy Road to #12 toernooi by die Modderfontein Gholfklub gewen en na hierdie rekordpoging is dit verseker dat Potchefstroom nog baie van hierdie gholfspeler gaan hoor.




