CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Oud-Puk wenner van twee internasionale kunstoekennings

Christiaan (Chris) Diedericks, ‘n gevestigde Suid-Afrikaanse kunstenaar en voormalige Puk-student, is onlangs as die wenner van twee internasionale kunskompetisies in onderskeidelik Australië en Italië aangewys.

Christiaan (Chris) Diedericks, ‘n gevestigde Suid-Afrikaanse kunstenaar en voormalige Puk-student, is onlangs as die wenner van twee internasionale kunskompetisies in onderskeidelik Australië en Italië aangewys.

Diedericks het ‘n hegte verbintenis met Potchefstroom. Hy voltooi sy hoërskoolopleiding in 1982 aan Gimmies, waarna hy in 1986 ‘n graad in BSc en in 1992 ‘n graad in beeldende kunste met lof aan die destydse Potchefstroom-Universiteit verwerf. Hy het hom as kunstenaar by uitstek in drukkuns onderskei, maar is ook as kunsdosent en grafiese kunstenaar bekend. Hy woon tans in Kaapstad waar hy voltyds as kunstenaar werk.

Die eerste groot toekenning wat hy in Junie vanjaar ontvang het, was die algehele wenner van die Doctor Raya Mayo-toekenning by die vyfde InkMasters Biennial 2021 in Cairns, Australië. Hiervoor het hy prysgeld van 8 000 Australiese dollar ontvang. Net daarna het hy in Julie die eerste en tweede prys van die Mudi in Arte 2021-kompetisie ontvang wat by die Diocesane Museum in Salerno Italië aangebied word. Daarvoor het hy 1 500 euro ontvang. Chris se weninskrywings sal saam met kunsmeesters van die 16de eeu in die permanente versameling van hierdie museum opgeneem word.

Diedericks het vir beide dié kompetisies ‘n reeks van vyf werke, Let us prey I – V, ingeskryf wat hy net na die eerste inperkingsperiode in Suid-Afrika geskep het. In elke ets gebruik hy ‘n kombinasie van drie verskillende drukkunstegnieke – droëpunt op Plexiglas, monotipe en lasergravure. In Let us prey I – V lewer Diedericks sosio-politieke kommentaar op die lang, drakoniese Covid-19 inperking wat die staat ingestel het, asook die plundering van die Covid-19 fondse wat eintlik beskikbaar gestel is om armes in die pandemie te help. “Terwyl mense aan komplikasies van die virus sterf, misbruik die politici en werknemers in staatsinstellings Covid-19 fondse en steel hulle biljoene. Dit, terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie reeds tot rommelstatus afgegradeer is,” sê Diedericks.

Die vollegdige reeks werke, Let us Prey I-V, wat Chris Diedericks vir twee internasionale kompetisies ingeskryf het.

In die titel van hierdie werke, Let us prey, gebruik hy sarkastiese woordspeling. Hy gebruik homofone en vervang die woord “pray” (bid) met “prey” (prooi). Woorde wat dieselfde klink maar verskillende betekenis het.

Dit is veral in moeilike omstandighede dat Christene hulle gewoonlik tot gebed wend – vandaar die sinspeling op “let us pray”. Die woord “prey” verwys egter in dié kunswerke na die grootskaalse diefstal en bedrog wat met die Covid-19 fondse gepaard gegaan het. Volgens die kunstenaar het die regering se burokratiese manier van inperking ook veroorsaak dat baie besighede se deure moes sluit. Die gevolg was dat duisende hul werk verloor en nou honger ly.

Let us prey III is die kunswerk wat beoordelaars in Australië as die wenwerk aangewys het. Met die kompetisie in Italië het beoordelaars Let us prey II, III en IV as die eerste en tweede prys aangewys.

In Let us Prey III is die monsteragtige figuur die simbool van die wêreldwye media. Van haar vinger hang ‘n hoek oor ‘n klein huis en beeld die angs uit wat almal aan die begin van die pandemie ervaar het. Die meeste mense word “vasgevang” (hooked) deur die media, vals nuus, spekulasie en sosiale media.

Chris Diedericks se Let us Prey III. Droëpunt, monotipe en lasergravure op Hahnemühle etspapier 15 x 70 sentimeter.

In Let us Prey II beeld hy twee hiënas (politici) uit wat baklei voor ‘n brandende bos (Suid-Afrika). Die suurstoftekort in baie hospitale word uitgebeeld deur die figuur wat Moeder Natuur (wolk) smeek vir suurstof. Die laaste uitbeelding kritiseer die kunstenaar die slegte toestand van sommige staatshospitale reeds voor die pandemie uitgebreek het.

Chris Diedericks se Let us Prey II. Droëpunt, monotipe en lasergravure op Hahnemühle etspapier 15 x 70 sentimeter. Foto’s: Verskaf

Let us Prey IV beeld die oorlog tussen goed en sleg uit. Die linkerkantste paneel beeld drie skoenlappers uit wat die simbool van transformasie is. Simbolies beeld dit die mens uit wat moet transformeer, nie alleen in denke nie, maar ook in woord en daad. Die bulle versinnebeeld die wedywering vir krag en mag en lewer kommentaar op die Suid-Afrikaanse ekonomie wat rommelstatus bereik het en steeds verder agteruitgaan.

Chris Diedericks se Let us Prey IV. Droëpunt, monotipe en lasergravure op Hahnemühle etspapier, 15 x 70 sentimeter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button