Nog ‘n Ferdie styg uit as aktrise
Dit blyk dat die dramatalent in Ferdies hoog in aanvraag is met nog ‘n Ferdie-leerder, Johné Aucamp (graad-11), wat gekies is om in ‘n kortfilm van ABS Produksies te speel.
Dit blyk dat die dramatalent in Ferdies hoog in aanvraag is met nog ‘n Ferdie-leerder, Johné Aucamp (graad-11), wat gekies is om in ‘n kortfilm van ABS Produksies te speel. Verlede week het die Herald berig oor Andruscka Botes in graad-8 wat ook hiervoor gekies is.
ABS Produksies het Johné amptelik uitgenooi om die oudisies in Parys by te woon en sy was later verheug toe sy hoor sy is vir die kortfilm gekies. Beide Johné en Andruscka kan nie wag om eersdaags met werksessies te begin nie. Dié werksessies sal hulle help om vir hulle rolle voor te berei en hul die geleentheid gee om saam met groot name soos Desiré Gardner, Izak Davel, Viljé Maritz, Albert Maritz en ander bekendes op te tree.
Johné het van jongs af ‘n liefde vir drama en die kunste gehad. Sy het as vyfjarige dramaklasse begin neem en is ook deel van die ADK Dramaskool vandat sy 12 jaar oud is. Sy geniet dit om voor ‘n gehoor op te tree en neem jaarliks aan die eisteddfod deel waar sy al ‘n reeks goue toekennings ingepalm het. Sy is ook bekend met KykNet se ABS Produksies en het al aan Speeltoneel deelgeneem waar Izak Davel, Desiré Gardner en Je-Ani Swiegelaar (Naomi van Binnelanders) haar mentors was. Ander ondervinding wat haar laat uitstaan bo die res is haar deelname aan skooltoneel en die filmkursusse wat sy bygewoon het. Dié mooi blondekop se grootste passie en liefde is teateroptredes. Tog geniet sy dit ook om TV-werk te doen, want elkeen het hulle eie unieke uitdagings.
“Ek geniet dit om verskillende karakters te vertolk. Op die verhoog kan jy die gehoor se reaksie direk ervaar, wat great is. Voor die kameras kan ek weer baie meer mense op een slag aanraak,” sê Johné.




