Munisipaliteit moet eie vuilwerk doen
Die bestuur van die vullisterrein in Potchefstroom gaan voortaan nie meer deur privaat kontrakteurs behartig word nie, maar deur J.B Marks se eie munisipale amptenare.
Die bestuur van die vullisterrein in Potchefstroom gaan voortaan nie meer deur privaat kontrakteurs behartig word nie, maar deur J.B Marks se eie munisipale amptenare.
Dineo Mongwaketse, die finansiële administrateur in die Noord-Wes, het verlede week dié aankondiging gemaak nadat sy die huidige kontrakteur se kontrak beeïndig het. Dit het groot ongelukkigheid by privaat kontrakteurs veroorsaak wat op hulle beurt weer in opstand gekom en verlede Vrydag die munisipale kantore (Dan Tloome-gebou) bestorm en munisipale werkers gedreig het. Dié gebou asook die museum- en biblioteekgebou is daarna gesluit om die publiek en munisipale amptenare te beskerm.
“Daar is persone wat die situasie uitbyt en onder valse voorwentsel van dienslewering, probeer druk plaas op die munisipaliteit om mense te kontrakteur om vullis te verwyder. Voorheen was van die vullisvoertuie gekaap en moes die SAPD die voertuie terugkry”, sê Hans-Jurie Moolman, koukusleier van die J.B Marks munisipaliteit.
Hy sê verder dat Mongwaketse kon bewys dat J.B Marks se bestuur nie behoorlike verkrygingsprosedures vir die verkryging van die privaatkontrak gevolg het nie. Volgens hom ondersoek die Valke tans die saak en sal hulle later kan sê watter munisipale amptenare voordeel uit die aanstelling van die privaat kontrakteurs getrek het.
Die munisipaliteit het al die jare hulle eie vloot vragmotors gehad met amptenare wat die vullisverwydering behartig het. Die min werkende trokke het egter ‘n krisis in Desember 2018 veroorsaak toe vullis in die stad opgehoop het en nie verwyder is nie.
In Mei 2019 het die Herald weer berig dat die munisipaliteit slegs twee vullistrokke gehad het om vullis te verwyder en reeds ses kompakteertrokke aangekoop het. Intussen het hulle ses kompakteertrokke gehuur terwyl hulle op die munisipale trokke wag. Maar selfs nadat die nuwe trokke hier aangekom het, is daar steeds voortgegaan om ten duurste vir die privaat kontrakteur se dienste te betaal.
“Dit is skreiend dat die bedrae wat die afgelope meer as twee jaar aan die privaat kontrakteur uitbetaal was, genoeg was om ten minste drie keer die munisipaliteit se volle vloot van vullisverwyderingsvoertuie te vervang”, sê Moolman.
Hy bevestig verder dat die DA al agt tot nege maande gelede die transaksie en die gebrek om die verkrygingsprosedures te volg, ingevolge Artikel 34 van Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Bedrywighede, gerapporteer het. “Ons wou nie ‘n groot lawaai daaroor maak nie omdat klagtes wat ons as politieke party in die verlede gelê het baie gou ‘n etiket van politiek gekry het en dan het daar niks van gekom nie.
“Ons (DA) wil die munisipaliteit weer in staat stel om hul eie dienste ten opsigte van vullisverwydering te hervat en verhoed dat daar in die toekoms soortgelyke ontwrigtings is. Ons het ook voorgestel dat die administrateur ‘n interdik aanvra teen dié mense wat dienslewering in ons munisipaliteit ontwrig.
Die Herald het Vrydag kommentaar gevra van William Maphosa, woordvoerder van die munisipaliteit, wat bevestig het dat privaatkontrakteurs die gebou binnegekom het en op amptenare geskree het. Hy het egter nie geweet waaroor die ongelukkigheid gaan nie. Die Herald het vanoggend weer kommentaar aangevra oor die kontrak van vullisverwydering wat gekansselleer is en sal later die kommentaar publiseer wanneer die munisipaliteit op die vrae kommentaar lewer.




