CommunityNewsNewsPhoto Galleries

‘Kunstenaars groei as hul aanhou werk’

Huidige en eertydse kunsstudente van Barend Grobbelaar se privaat kunsskool, Studio Visio, het Vrydagaand, 13 Augustus die skool se 40ste  bestaansjaar gevier met ‘n kunsuitstalling wat by die Potchefstroomse Museum geopen is.

Huidige en eertydse kunsstudente van Barend Grobbelaar se privaat kunsskool, Studio Visio, het Vrydagaand, 13 Augustus die skool se 40ste  bestaansjaar gevier met ‘n kunsuitstalling wat by die Potchefstroomse Museum geopen is.

Baie van Studio Visio se oudstudente het van heinde en verre gekom om die openingsaand by te woon en dié wat nie daar kon wees nie, het voor die tyd video-boodskappe opgeneem wat met die openingsaand aan almal gebeeldsend is.

Dit was ‘n groot verrassing vir Barend en sy vrou, Kitty, wat die reëlings van die uitstalling in die bekwame hande van Ronel Strydom oorgelaat het wat in die bestuur van die skool dien. Sy het in die geheim met diegene ‘gekonkel’ wat ver woon om persoonlike opnames te stuur. So het Heilna du Plooy, Roland Daniël en Maritza Breitenbach onder meer met hul boodskappe die verrykende ervaring van hul kunsopleiding by Barend Grobbelaar gedeel.

Barend by die video-boodskap van Roland Daniël. Foto: Verskaf

“Om jouself binne die kleur- en sielvolle ruimte van Kitty en Barend se wêreld te bevind, is om jou sokkies op te trek, diep in te asem, uit te asem, jouself gereed te maak om iets nuuts te leer, jouself met oorgawe oor te gee aan die stimulasie en inspirasie van uitmuntende begeleiding en treffende lewenslesse met ewigheidswaarde,” sê Maritza, ‘n beeldhouer van Stellenbosch wat meer as twintig jaar gelede kunsklasse by Barend gehad het.

Die openingsaand vir diegene wat in vlees daar was, was ‘n feestelike geleentheid met ou vriende wat gesellig saamgekuier en oor die ou dae teruggedink het.

Kitty en Barend Grobbelaar by Studio Visio se uitstalling by die Potchefstroomse Museumgalery. Foto: Verskaf

Die Herald het ná die uitstalling Barend en sy vrou, Kitty, by hulle huis besoek om oor die groot mylpaal van 40 jare se kunsopleiding te gesels. Ons sit ons in ‘n sonnige woonkamer met groot vensters wat ‘n uitsig gee oor die mooi tuin en twee ateljees. Die vaal wintertuin is ‘n skrille kontras met die vrolike kamer wat omring word met kleurvolle skilderye teen die muur en beeldhouwerke wat oral rond staan. In hierdie einste woonkamer is die eerste kunsklasse aangebied. Twee ateljees sou later volg om plek te maak vir die kunsstudente wat al hoe meer begin word het.

“Dit is net ‘n groot genade. Die Here was vir my baie goed dat ek oor 40 jaar met mense kon werk wat nie opgehou het om kuns te skep nie, maar aanhou werk het. Dit wys dat die kreatiewe vermoë wat hulle gekry het, só gestimuleer is dat hulle kon aangaan, groei en ontwikkel,” sê Barend trots oor sy kunsstudente.

Hy verwys na hulle as die klein saadjies wat hy destyds in goeie grond geplant het en nou gesonde bome geword het wat goeie vrugte dra. “Die kunswerke op dié uitstalling is die goeie vrugte van my studente,” spog hy.

Barend is ‘n beeldhouer in eie reg wat in 1979 die nasionale beeldhoukompetisie, Afrox-Metalart, gewen en verskeie suksesvolle solo-tentoonstellings gehou het. Hy is ook verantwoordelik vir die groot paneel in die ingangsportaal van die Noordwes- Universiteit se administrasiegebou wat destyds deel van sy meestersgraadstudie aan die Universiteit van Pretoria was. Die pragtige bronsbeeld by Abraham Kriel Kinderhuis het hy ook gemaak.

Kitty is ook ‘n kunstenaar en Barend terg haar graag wanneer hy na haar as sy oudste kunsstudent verwys. Hulle is ‘n gedugte span wat al die jare saam die kunsskool bestuur.

Kitty Grobbelaar, Barend se vrou en regterhand. Foto: Venessa van der Westhuizen

Toe Studio Visio begin is, het Barend reeds 23 jaar ervaring in kunsonderrig gehad en was hy vir nege jaar aan die Departement van Beeldende Kunste aan die Puk verbonde. Hy het destyds die behoefte raakgesien om professionele kunsklasse vir skeppende mense in Potchefstroom aan te bied. Dit is vandag steeds die enigste kunsskool waar beeldhouklasse aangebied word. Behalwe vir beeldhoukuns, het hy destyds ook klasse in verskeie mediums soos grafiese kuns, teken- en skilderkuns aangebied.

Hy het oor die jare begin afskaal en vandag bied hy slegs klasse in skilder- en beeldhoukuns aan. So het hy ook van sy klasse minder gemaak toe hy later besluit het om nie meer kunsklasse vir kinders aan te bied nie. Dit is inspirerend om te sien hoe ‘n 83-jarige steeds kans sien vir kunsonderrig en kreatiewe stokperdjies soos bonsai. Hy en Kitty nooi my uit om sy groot versameling bonsai-bome buite te bewonder.

“Bonsai-kuns verskil van beeldende kuns in die sin dat jy met lewendige materiaal werk. Ek rig, stileer en moet vorm gee, maar die boom groei en ontwikkel op sy eie,” sê Barend. Die oudste boom in sy versameling het hy in 1963 begin vorm gee. Hy erken dat Kitty hom baie help met die bonsais vandat sy sig begin het om af te neem. Barend praat min oor sy sig wat sedert verlede jaar skielik begin het om af te neem. Om nie meer te kan sien nie, is sekerlik die grootste nagmerrie vir enige kunstenaar. Sy sig het sedert Augustus verlede jaar drasties begin kwyn totdat hy nou net  5% sig het.

Hy sê die oorsaak vir sy afname in sig word aan makulêre agteruitgang toegeskryf. ‘n Mens kan nie help om te wonder hoe hy nog klas gee en as kunstenaar werk nie. Tog hanteer hy die terugslag met ‘n positiewe ingesteldheid. Toe hy die slegte nuus van sy toestand aan sy studente oordra, het hulle eenparig vir hom gesê dat hulle graag nog met klasse wil voortgaan. “Hulle het bloot aan my gesê: ‘Daar mag fout wees met jou oë, maar daar is niks fout met jou kop nie,’” haal hy hulle aan.

Hyself werk nog steeds en wys ‘n paar sketse wat hy verlede week met conté in ‘n sketsboek gemaak het. “Al kan ek nie sien nie, kan ek nooit ophou skep nie,” sê die dosent wat vir sy studente ‘n goeie voorbeeld stel om steeds aan te hou werk – selfs al kan hy nie meer sien nie.

Barend Grobbelaar by een van sy sketse wat hy onlangs gedoen het. Hy skep steeds al het sy sig drasties afgeneem. Foto: Venessa van der Westhuizen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button