NewsNews

Toep bring positiewe verskil in gemeenskap

’n Toep (app) wat dienslewering kan verbeter, is nou vir Potchefstromers en die hele Noordwes beskikbaar.

’n Toep (app) wat dienslewering kan verbeter, is nou vir Potchefstromers en die hele Noordwes beskikbaar. Hierdie gratis toep genaamd “Requestor App” is beskikbaar vir enige selfoon of rekenaargebruiker met die doel om diensleweringskwessies aan die lig te bring en ‘n direkte skakel met die gekose raadslid en munisipaliteit te handhaaf.

Werner van Onselen by een van die gate in Potchefstroom wat inwoners met die gratis toep genaamd “Requestor App” kan rapporteer. Foto: Wouter Pienaar

Die DA raadslid, Werner van Onselen en Dewald Pieters, ‘n inligtingstegnologie spesialis, het in 2016 met die idee vorendag gekom en stadig aan die konsep begin werk.

“Ons het ‘n behoefte gesien in die mark dat dienslewering ‘n groot probleem is. Die toep gee inwoners die geleentheid om hulle stem oor ‘n spesifieke kwessie te laat hoor, sodat die munisipaliteit daarop kan reageer. “Hierdie toep gee jou as inwoner die geleentheid om ‘n bewys te hê dat hulle dit gerapporteer het met ‘n tyd en plek. Die munisipaliteit kry dan ‘n e-pos met ‘n spesifieke geo-coding om die probleem aan te spreek. Die voordeel van die toep is dat jou raadslid ook dan bewus is van die probleem,” noem Van Onselen.

Raadslede het dan die voordeel om die probleem by die munisipaliteite op te volg en dit makliker op te los omdat daar direkte kommunikasie tussen inwoners, raadslede en munisipaliteit is. Sodoende is daar dan ‘n spreekwoordelike paper trail vandat die probleem gerapporteer is totdat dit amptelik opgelos word.

“Ons het klomp opsies bespreek oor hoe, of wat die beste is om die funksionaliteit te laat werk. Vanaf registrasie tot by probleem rapportering. In die begin van 2017 het ons ‘n prototipe ontwikkel,” vertel Van Onselen.

Hierdie toep het werklik die belangstelling geprikkel toe diensleweringskwessies meer van ‘n raakpunt in Potchefstroom geword het.

“Ons het dit in 2019 in Potchefstroom begin gebruik om te kyk of dit sal werk in die gemeenskap en wat ons moes verander en, of verbeter. Dit was ‘n toetslopie waar net raadslede dit gebruik het,” noem Van Onselen.

Volgens hom het Covid-19 toe bietjie die stelsel op ys geplaas. Van Onselen en Pieters het toe in daardie tyd baie aan die stelsel gewerk om die optimale werking te verkry.

“Soos ons weet is tegnologie altyd besig om te verbeter, so ons werk konstant aan die stelsel om dit te verbeter vir die gebruiker,” verseker Van Onselen, wat die bemarking en implementeringstrategieë van die toep behartig.

“Ons het die toep in Noordwes nou versprei waar dit hopelik binnekort nasionaal beskikbaar sal wees.”

* Die toep is beskikbaar by https://requestorapp.co.za. Dit is nie op die Play Store of iStore beskikbaar nie.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/92729/bult-bulletin-episode-13-nuwe-toep-wil-dienslewering-verbeter/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button