CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Opname toon dienslewering in Promosa en Miederpark is die swakste

Die JB Marks Verbruikers en Belastingbetalers Vereniging (JBM-VBV) het verlede Woensdag om 18:00 hulle aanlyn beraad gehou om verslag te lewer oor die toestand waarin die J.B Marks munisipaliteit hulself bevind.

Die JB Marks Verbruikers en Belastingbetalers Vereniging (JBM-VBV) het verlede Woensdag om 18:00 hulle aanlyn beraad gehou om verslag te lewer oor die toestand waarin die J.B Marks munisipaliteit hulself bevind. Ongeveer 18 mense het die vergadering bygewoon, waaronder die stasiebevelvoerder in Potchefstroom, brig. Steven Moodley, enkele raadslede van die munisipaliteit en lede van die JBM-VBV.

In die beraad is ‘n PowerPoint uiteensetting gegee van afwykings (infrastruktuur probleme) in vyf groot woonbuurte – Miederpark, Promosa, Mohadin, Ikageng Noord en Baillie Park – van Potchefstroom. Deeglike opnames is gemaak en die afwykings is op ‘n kaart aangeteken. Sedert September 2020 tot Junie 2021 het vyf persone – Hajera Sooliman, Solomon Motlhoiwa, Rathata Matabane, Zaid Bhaba en Ben Krieg – altesaam 135km in die vyf woonbuurte afgelê om plekke aan te dui wat ingryping van die munisipaliteit benodig. Die afwykings is geklassifiseer onder waterlekke, rioollekke, slaggate, padtekens en straatname wat vermis is, transformatorkaste wat olie lek, straatligte wat gebreek of buite werking is, stormwaterdreine wat geblok is en onwettige storting. Ander probleme waaroor die munisipaliteit nie beheer het nie en wat aangespreek moet word, is onwettige plakkate wat opgesit word en bome op munisipale gebied wat afgesaag is.

Die totale aantal afwykings in die vyf woonbuurte kom neer op 8 452. Volgens die statistiek wat opgetrek is, het Promosa 2 487 afwykings terwyl Miederpark 1965 het. Derde volg Baillie Park met 1 848 afwykings, Ikageng Noord het 1 082 en Mohadin het 1 070 afwykings.

Elke woonbuurt het sy eie probleme wat uitstaan. In Miederpark is daar 27 verstopte dreine en 48 waterlekke. Daar is ook meer as 50 onwettige stortingsterreine en meer as 50 bome op munisipale areas is afgesaag. In Promosa is daar 853 slaggate waarvan die meerderheid baie groot is.

Die hoeveelheid padtekens wat in die vyf woonbuurte ontbreek.

Friedemann Essrich, ‘n geofisikus van Potchefstroom, het die PowerPoint voorlegging tydens die beraad gegee. Hy is ondervoorsitter van JBM-VBV en sy portefeulje is gemoeid met probleme wat inwoners rondom infrastruktuur ervaar. Hy sê dat hy verskeie ontmoetings met Jack Monnakgothu (direkteur van tegniese dienste), Michael Maki (bestuurder van die elektrisiteitsafdeling) en Thomas Muswedi (hoof van parke en rekreasie) van die J.B Marks munisipaliteit gehad het om spesifieke probleme rondom infrastruktuur in die stad te bespreek, maar hulle is nie bereid om met die JBM-VBV saam te werk nie.

Rathata Matabane, voorsitter van die JBM-VBV, het tydens die beraad gesê dat die vereniging graag die probleme met infrastruktuur onder die aandag van die munisipaliteit wil bring. “Die vereniging wil graag ‘n weg vind om met die munisipaliteit saam te werk. “Om regstappe teen die munisipaliteit te neem is ons laaste uitweg, maar as dit ons enigste uitweg is, is ons bereid om dit te doen,” het Matabane gesê. Die Herald het die munisipaliteit vir kommentaar genader, maar het spertyd geen terugvoering ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button