Laerskool Baillie Park het Donderdag, 23 September, met trotse harte hulle splinternuwe binnenshuise sportsentrum geopen. Dit was net gepas dat een van Laerskool Baillie Park se groot krieketfigure, mnr. Boet Hurn, die lint geknip het om die sportsentrum amptelik te open. 
“Boet is ‘n legende. Daar is nie ‘n ou wat soveel vir krieket gedoen het vir die afgelope 38 plus jaar soos Boet nie. In die Desembervakansie sit Boet en haal dorings uit die krieketveld uit en dit na ‘n hartomleiding,” noem Baillie Park se hoof, mnr. Piet Muller.

Nico Tromp, beheerliggaamvoorsitter van Laerskool Baillie Park het sy dank teenoor elke ouer en personeellid uitgespreek wat ‘n rol in die suksesvolle oprigting van die sportsentrum gehad het. 
“Die behoefte het ontstaan as gevolg van die ou krieketnette wat nie meer in ‘n goeie toestand was nie. Omdat ons terrein beperkte spasie het, het ons besluit om ‘n nuwe binnenshuise sentrum in daardie spasie op te rig. Op die ou einde het ons met die ontwerp gekom om dit as ‘n meerdoelige sportsentrum te gebruik.

“Sporte soos krieket, boogskiet en aksiekrieket sal in hierdie sentrum bedryf word. Ons kan ook kultuuraande en spanbousessies hier hou. Op groot sportdae kan die onderdak geriewe gebruik word vir registrasie of noodhulp,” het Tromp genoem.

Tromp het onder meer vir mnre. Piet Muller (hoof), Rieme Redelinghuys (onderhoof) en Jaco Vermaak (sportkoördineerder en projekbestuurder) bedank vir al hulle ondersteuning en harde werk om die sportsentrum suksesvol bekend te stel.
Foto’s: Wouter Pienaar



















