Een van Suid-Afrika se bekendste komediante, Doringdraad, het die afgelope Saterdag, 25 September ‘n draai in Potch by Zig Zag Bar gemaak om met sy unieke humorsin die publiek te laat skaterlag.
Soos gewoonlik was dit vir Doringdraad-Komediant (Schalk Lingenfelder) van Kameeldrift in Pretoria-Oos nie te moeilik om die gehoor se aandag te lok nie – sy komedie is soos ‘n doringdraad, want as hy jou eers het dan lag jy die heel aand.
“’n Afrikaner wat nie lag nie is soos ‘n Cowboy sonder ‘n hoed. Elke Afrikaner het ‘n knoppie wat ‘n mens net moet druk dan sal hy lekker lag,” vertel hy.
Doringdraad noem dat hy van jongs af mense kon vermaak met sy grappies en doen en late. Hy het destyds besef dat daar ‘n mark is vir goeie komedie in Afrikaans.
“Van kleins af het ek die bynaam van ‘sirkus’ gehad. Ek het al die kinders vermaak en so met die jare het ek altyd grappies gemaak by ‘n braai. My groot held was Tolla van der Merwe. ‘n Vriend het vir my toe gevra of ek nie wil komedie doen vir geld nie. Ek het toe besluit om te gaan kyk na ‘n vertoning in Pretoria en besef dat dit is wat ek wil doen.”

Hy vertel dat sy eerste vertoning, as die White Warrior, saam met die gesoute komediante, Melt Sieberhagen en Hannes Brümmer was.
“Ek was senuweeagtig soos ‘n ou met een been in ‘n gatskopkompetisie. Ek was verskriklik gestres omdat dit anders is as voor jou vriende. Ek het later toe goed begin skryf en toe het ek by Aardklop die produksie “Nou Wat Nou” aangebied,” vertel hy oor sy eerste groot produksie in Potch.
Volgens hierdie komediant is dit nou ook veral in die inperkingstyd belangrik om steeds op sosiale media aktief te wees en aanlyn ook mense se lagspiere te kielie.
“’n Mens moet Afrikaanse mense se humor verstaan. Ek sit partykeer ‘n snaakse prentjie met ‘n slagspreuk op en dan is daar iets soos 10 000 mense wat dit deel. Die meerderheid mense geniet die humor op Facebook en ook op TikTok,” vertel hy.
Volgens hom is die verhoog die beste leerskool vir enige aspirante komediante.
“Lees jou mark, doen dit en probeer dit. Daar is plekke wat dit aanbied en doen dan ‘n drie minute of vier minute vertoning. “n Mens moet ook die lyn ken tussen te vulger en te skoon en dit aanpas vir die spesifieke gehoor. Ons komediante het nie ‘n back track nie en dit maak dit moeilik, maar as die mense eers lag en die vertoning geniet is daar geen beter gevoel nie. Dit voel vir ‘n mens asof die Springbokke ‘n drie in die laaste minuut druk.”




