CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Hettie (92) se lewensreis het haar sterk gemaak

Hettie Uys is op 92-jarige ouderdom nog flink en regop.

Daar is ‘n spreekwoord wat lui: “n Sterk vrou weet dat sy krag vir haar reis het, maar ‘n kragtige vrou weet dat sy tydens die reis sterk word.”

So is dit met Hettie Uys wat op 92-jarige ouderdom nog flink en regop is. Sy put krag uit haar lang lewensreis wat op 20 Mei 1930 as ‘n nooi Pretorius op die plaas Thyszyndoorns in die Ventersdorpdistrik begin het. Hier het sy grootgeword en by ‘n plaasskool, Blesbokfontein, haar laer- en hoërskoolonderrig ontvang.

As klein dogtertjie onthou sy nog hoe haar ouers een keer per maand met die ossewa vir nagmaal Potchefstroom toe gekom het.

Sy het nog tot twee jaar gelede al haar huiswerk alleen gedoen, maar vandat sy haar sig begin verloor het, het sy nou ‘n huishulp wat haar een keer per week met huistakies help. Verder kook sy nog elke dag vir haarself middagetes, woel sy in die tuin en is sy op hoogte van die jongste nuusgebeure, deur in te skakel op Radio Sonder Grense (RSG). Haar goeie vriendin, Mariaan Lombaard, lees die Herald vir haar voor om haar ook in te lig wat plaaslik gebeur. Mariaan help ook met die aankope van haar inkopies.

Met tannie Hettie se geheue en gehoor makeer daar absoluut niks. Haar grootste frustrasie is dat sy nie meer haar Bybel kan lees nie, maar daarvoor het sy ook ‘n plan beraam en luister sy nou die Bybel in die oggend en aand met behulp van bandopnames. Sy vertel met trots dat sy die Bybel al 23 keer deurgelees het en sê dat jy die Bybel maklik in een jaar kan deurlees as jy elke dag drie hoofstukke lees.

Hettie se vriendinne en mede-inwoners van Rosetuin (1) aftree-oord het net die grootste respek en lof vir haar en ‘n mens kan nie help om jouself oor haar goeie gesondheid te bewonder nie. Sy help my vinnig reg wanneer ek twyfel oor name en datums en onthou al haar familielede se verjaarsdae. Dít, terwyl ek nie eers kan onthou wat ek vir ontbyt gehad het nie!

Na alles is sy is nie juis beïndruk met die feit dat sy nog so aktief is nie. Sy is baie meer trots op haar 23 agterkleinkinders en sy voeg opgewonde by dat die 24ste een op pad is. Haar oudste agterkleinkind, Caitlin Rousseau, het onlangs 23 jaar oud geword en is volgens haar oumagrootjie ‘n briljante NWU-student en ‘n uitstekende netbalspeler.

Tannie Hettie se man, Chris Uys, is in 1987 oorlede, maar altwee haar seuns, Gerhard Uys (70) en Dirk Uys (65), leef steeds. Haar seun Gerhard het twee kinders (dogters) en Dirk het nege kinders (vier seuns en vyf dogters).

Tannie Hettie se geheim vir haar lang en gesonde lewe is volgens haar eenvoudig. Sy put krag uit haar geloof, haar aktiewe lewe en haar liefde vir haar familie en vriende. “En ek raak nie betrokke by skinderpraatjies nie,” voeg sy by met ‘n glimlag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button