Werkers van Parke-afdeling sny naweke bome in privaat erwe
Sommige inwoners gebruik naweke glo werkers van die munisipaliteit se parke-afdeling om bome in hul erwe af te sny en te verwyder.
Sommige inwoners gebruik naweke glo werkers van die munisipaliteit se parke-afdeling om bome in hul erwe af te sny en te verwyder. Verlede Saterdag het so ‘n voorval plaasgevind waar ‘n inwoner R400 aan die werkers van die parke-afdeling betaal het. ‘n DA raadslid van die J.B. Marks munisipaliteit, Chris Hattingh, het die voorval by die betrokke departement gerapporteer en gesê dat dié praktyk nie mag plaasvind nie.
“Die munisipaliteit is besig om ernstig kostes op oortyd te besnoei. Wanneer werkers naweke in diens van die munisipaliteit is, ontvang hulle oortyd wat ‘n onnodige uitgawe vir die munisipaliteit is. Werkers mag ook nie fooitjies van die publiek ontvang terwyl hulle aan diens is nie en vir alle geld wat ontvang word, moet kwitansies uitgereik word.”
Die Herald het kommentaar van die munisipaliteit gevra, waarop die woordvoerder, William Maphosa, erken het dat daar ‘n toename in oproepe vir sulke dienste is. “Die munisipaliteit kan en sal nooit toelaat dat privaat werk gedurende werktyd gedoen word nie en sal ook nie toelaat dat hul hulpbronne vir privaat werk ingespan word nie,” sê Maphosa. Hy het verder gesê dat die betaling van R400 vir privaatwerk aan een van die munisipaliteit se werknemers in ‘n ernstige lig beskou word.
“Ons doen ‘n beroep op die persoon wat R400 aan ‘n werknemer betaal het om na vore te kom en die voorval te rapporteer sodat die nodige ondersoeke gedoen en dissiplinêre stappe geneem kan word,” sê hy. Maphosa sê ook dat die munisipaliteit die gemeenskap ontmoedig om bybetalings en omkoopgeld aan munisipale werkers te betaal. “Alle betalings mag slegs by die inkomstedienste gedoen word waar kwitansies hiervoor verskaf kan word.”
Twee dae nadat die Herald kommentaar van die munsipaliteit ontvang het, het ‘n inwoner ‘n foto gestuur waar die Parke-afdeling weer oortyd gewerk het. Dieselfde bome wat die vorige naweek afgesaag is, is Vrydagoggend om 6:00 opgelaai.




