
Die vierde LyriMus musiekkonsert het Saterdag, 6 November weer vir gesogte optredes van Potch se top plaaslike sangers en musikante gesorg.
Braam Coetzer, Jananda Coetzer, Heinrich Henning en Piet Terblanche het die aand elk met hulle eie unieke styl opgetree.
Foto’s: Wouter Pienaar
Jordi Terblanche was eerste aan die woord met ’n kort drama-opvoering, voordat haar man Piet, die musikale deel van die aand begin het. Piet het bekende liedjies soos “Kinders van die Wind” en “Ek Lewe” gesing wat groot applous ontvang het.
Heinrich het in sy tweede optrede vanjaar by LyriMus, weer bewys dat hy elke keer sy alles gee op die verhoog.
Sy verwerking van Chris Isaak se “Wicked Game”, Adam Tas se “Gaan sê vir die Angels” sowel as Bon Jovi se “Blaze of Glory” het bewys dat hy beslis as musikant uitblink.
Jananda het met “Stille Waters” van Laurika Rauch “Binnelanders” van Jak de Priester en “Hillbrow” van Johannes Kerkorrel, aan die gehoor se hartsnare geraak.
Braam het met “Ou Ryperd” afgeskop wat die gehoor sommer vinnig aan die sing gekry het. “So Long Marianne” van Leonard Cohen en Neil Diamond se “Song Sung Blue” en “I’ve Been This Way Before” het die aand toepaslik afgesluit.
Die vyfde Lyrimus Sessions vind Saterdag, 20 November plaas. Vir meer inligting kontak 082 570 4838.
























































