Weg met hoofsweep in JB Marks, sê VF Plus
Die VF Plus het gister tydens JB Marks munisipaliteit se eerste raadsvergadering ‘n mosie ingedien om die amp van ‘n hoofsweep in die raad te skrap.

Die VF Plus het gister tydens JB Marks munisipaliteit se eerste raadsvergadering ‘n mosie ingedien om die amp van ‘n hoofsweep in die raad te skrap.
“Die amp van hoofsweep in die munisipaliteit het in die verlede geen waarde tot die werking van die raad toegevoeg nie en is ‘n blote vermorsing van belastingbetalers se geld”, sê Marlene Steyn, VF Plus raadslid in die JB Marks munisipaliteit. Sy sê dat die kantoor van die hoofsweep in JB Marks teen ‘n beraamde jaarlikse salaris en operasionele koste van meer as R1,5 miljoen onderhou word. Dit, terwyl hoofswepe van ‘n vlak 4 munisipaliteit soos JB Marks tans R670 000 per jaar verdien.
“In ‘n munisipaliteit waar die infrastruktuur besig is om te verval, is dit nie net ‘n vrugtelose uitgawe nie, maar ‘n skande”, sê Steyn.

Volgens haar wys alle partye swepe vir hul onderskeie party-koukusse aan en so ‘n oorkoepelende amp is dus oorbodig, veral in ‘n munisipaliteit soos JB Marks wat reeds met enorme finansiële uitdagings te kampe het.
Die ANC en die Patriotic Alliance het teen die mosie gestem en daarop aangedring dat daar met die verkiesing van ‘n hoofsweep voortgegaan word. Die DA het die VF Plus se mosie ondersteun. Die mosie is met 35 stemme teen 25 verwerp. Die EFF het buite stemming gebly.
Die VF Plus het dit verder duidelik gemaak dat die party nie ‘n kandidaat vir die amp sal voorstel of aan die verkiesing vir iemand in hier amp sal deelneem nie.
“Die ANC se aandrang om die amp te behou, is weer eens ‘n bewys dat die kultuur van selfverryking van ANC-kaders ten koste van die munisipaliteit se inwoners is”, het Steyn gesê.




