CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Berugte rowers kry 20 jaar tronkstraf danksy goeie speurwerk

Danksy sers. Maria Williams, ‘n ondersoekbeampte by die groep vir ernstige misdade (Serious Crimes Group) van die Potchefstroomse speurtak, is twee berugte rowers Woensdag, 24 November in die landdroshof in Potchefstroom  swaar vonnisse opgelê.

Danksy sers. Maria Williams, ‘n ondersoekbeampte by die groep vir ernstige misdade (Serious Crimes Group) van die Potchefstroomse speurtak, is twee berugte rowers Woensdag, 24 November in die landdroshof in Potchefstroom  swaar vonnisse opgelê. David Duikens (25) en Ofentse Motlana (22) moet elkeen effektief 20 jaar tronkstraf uitdien nadat hulle ‘n 31-jarige man naby die taxistaanplek in die sentrale sakekern aangerand en beroof het.

Volgens kapt. Aafje Botma, polisiewoordvoerder, het die voorval vroeër vanjaar op 15 Junie plaasgevind toe ‘n man op sy fiets deur Duikens en Motlana voorgekeer is. Botma sê die man op sy fiets was besig om te rook en die twee het hom gevra of hy vir hulle sigarette het. “Net toe die man stop en vir een van die mans ‘n sigaret oorhandig, het die ander man hom van agter aan sy rugsak gegryp. “Hy het saam met sy fiets geval terwyl Duikens en Motlana hom geskop en geslaan het. Een van die twee aanvallers het ‘n mes uitgehaal en hom gedreig. Hulle het hom deursoek en alles in sy besit gesteel – sy fiets, rugsak, selfoon, R7 000 kontant, bankkaarte en huissleutels,” het Botma gesê.

Die slagoffer is daarna na die polisiestasie waar hy ‘n verklaring afgelê het. Duikens en Motlana is later deur lede van die misdaadvoorkomingseenheid in hegtenis geneem nadat die slagoffer sy fiets uitgeken het. Hulle het ook die slagoffer se selfoon in die rowers se besit gekry.

Volgens Williams is die rowers swaar gestraf omdat hulle met verskeie ander oortredings verbind word, onder meer gewapende roof wat ‘n vuurwapen uitsluit, besit van gesteelde goedere, huisbraak en motordiefstal.

Williams, wat al 12 jaar in die polisiediens is, is ‘n petite, saggeaarde speurder wat haar huiswerk deeglik gedoen het om te sorg dat dié twee rowers swaar gestraf word. Sy het nooit gedink dat sy eendag in die polisie sou eindig nie.  Sy het eers op dertigjarige ouderdom by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangesluit.  Sedertdien blink sy uit as speurder en het in 2019 ook ‘n toekenning as werknemer van die jaar by die misdaadvoorkomingseenheid ontvang.

Williams sê om dapper en geduldig te wees, is twee van die belangrikste eienskappe van ‘n goeie polisiebeampte. Sy erken dat die polisiediens, veral vir ‘n vrou, nie ‘n maklike beroep is nie. “Dit is ‘n groter uitdaging om as vrou jou skoene in ‘n manswêreld vol te staan,” sê sy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button