CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Sanitêre doekies vir die feesseisoen

Die nie-winsgewende organisasie, Feisty Female, het Vrydag, 10 Desember bykans 8 000 sanitêre doekies aan Bafenyi Trust geskenk om minderbevoorregte vrouens in Potchefstroom tydens die feesseisoen by te staan.

Die nie-winsgewende organisasie, Feisty Female, het Vrydag, 10 Desember bykans 8 000 sanitêre doekies aan Bafenyi Trust geskenk om minderbevoorregte vrouens in Potchefstroom tydens die feesseisoen by te staan.

Feisty Female se #YourPeriod inisiatief is op 18 Julie verlede jaar geloods met die oogmerk om ‘n volhoubare verskil onder jong meisies en vrouens in ons gemeenskap te maak deur hulle met sanitêre doekies by te staan.

Die hart van die projek is om te verhoed dat vrouens en meisies weens maandstonde skool of werk mis. “Elke vrou verdien ‘n tydperk van genade, groei en bystand, daarom is dit vir Feisty Female belangrik om vrouens by te staan en te bemagtig.” sê Juanita Greyling, direkteur van Feisty Female.

Bafenyi Trust is al vir jare ‘n bekende naam en verrig ongelooflike liefdadigheidswerk in en om Potchefstroom. “Ons kon nie aan ‘n beter organisasie dink om die sanitêre doekies te versprei nie,” sê Greyling.

Die 8000 doekies wat aan Bafenyi Trust geskenk is, is genoeg om bykans 70 vrouens en meisies vir ‘n tydperk van 6 maande by te staan. Bafenyi sal die doekies aan skole en behoeftige vrouens in die gemeenskap versprei.

Dineo Masigo, direkteur van Bafenyi Trust noem dat hierdie donasie baie waardevol is en sien daarna uit om met Feisty Female hande te vat en die gemeenskap te ondersteun.

Volgens Elizna Leibbrandt, nog ‘n direkteur van Feisty Female, het die ondersteuning van Potchefstroom met hierdie projek al hulle verwagtinge oortref. Talle winkeleienaars het ingestem dat daar donasiebokse in hulle winkels geplaas word waar lede van die publiek ‘n bydrae tot die projek kon maak.

Baillie Park Spar, Miederpark Spar, Bult Spar, Pick ‘n Pay Van Der Hoffpark, Canal Crossing, Mooirivier Junction, Riverwalk, iDuc NPO en West Acress is almal rolspelers in die projek waarsonder die insameling van die doekies nie moontlik sou wees nie.

“Ons is dankbaar vir elkeen van hierdie rolspelers se inkoop in die projek en sien daarna uit om volgende jaar ‘n groter verskil te maak,” sê Leibbrandt opgewonde.

“Die projek is nog in sy wegspringblokke en die begin van nóg groot dinge,” sê Timoné Mynhardt, van Feisty Female.

Die projek is vierledig en fokus nie net op die insameling van sanitêre doekies nie maar moedig die gemeenskap aan om op ander maniere betrokke te raak in die vorm van finansiële donasies, materiaal skenkings en die koop van sanitêre omgee-pakkies.

Volgens Mynhardt is hulle grootste doel vir 2022 om slagoffers van geweld te bemagtig met naaldwerkvaardighede om sodoende weer herbruikbare sanitêre doekies te vervaardig en aan vrouens te versprei.

Feisty Female bedank elke Potchefstromer wat hierdie projek tot dusvêr ondersteun het.

Lede van die publiek wat betrokke wil raak of die inisiatief wil ondersteun, kan www.feistyfemale.co.za vir meer inligting besoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button