CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Koskenner gee wenke vir Kersete

Elsa Botha, eienaar van Food Studio, ‘n restaurant op die Bult, stel 'n maklike spytskaart voor en deel haar resepte vir 'n onvergeetlike Kersete.

Elsa Botha is die eienaar van Food Studio – ‘n restaurant op die Bult waar die heerlikste middagetes volgens vasgestelde spyskaarte opgedis word. Kliënte bespreek vooraf hulle middagetes anders moet hulle met leë hande weggaan.

Alles in dié klein wit restaurantjie spreek van eenvoud en styl – van die pragtige blou Delft-borde teen die muur tot die minimalistiese wit dekor en die blink glaskoepels met heerlike gebakte koeke en meringues. Die rakke teen die muur is vol gepak met flesse vol ingelegde olywe en soet mosterd en dan is daar pakkies beskuit en koekies.

Dié plek is nie net ‘n fees vir die oog nie maar beslis ‘n fees vir jou smaaksintuie daarom het die Herald by Elsa gaan inloer om vir Potchefstromers ‘n ideale Kersspyskaart op te stel. Sy was ook gaaf genoeg om een van haar gunsteling resepte met ons te deel.

Elsa Botha in Food Studio – die stylvolle restaurant op die Bult. Foto: Venessa van der Westhuizen

Elsa het grootgeword met ‘n ma wat lief was om kos te maak. “Sy het altyd haar waardering gewys met ‘n tuisgebakte broodjie of ‘n pakkie koekies. Daardie liefde het sy aan ons oorgedra. Vandag is ons hele gesin lief vir kosmaak – selfs my broers is kreatief in die kombuis”, vertel Elsa. Haar suster Maranda Engelbrecht is ‘n bekende stilis en is tans die kreatiewe direkteur by die Kaapse spogplaas, Babylonstoren.

Elsa is gebore in Klerksdorp en het op Stilfontein grootgeword. Sy het in Potchefstroom onderwys studeer, maar het nie lank skoolgehou nie toe sy die tweede koffiewinkel, Café Fiori, op die Bult begin het. Daarna het sy nog ‘n koffiewinkel in Van der Hoffpark begin en vandaar het sy ook by Feather Hill vir groot geleenthede kos gemaak.

Elsa vertel toe sy nog by haar ouers aan huis was hulle nooit van Kersdag ‘n groot bohaai gemaak het nie. “Ons het ons groot ete Oukersaand gemaak omdat dit koeler was. Tradisioneel het my ma doekpoeding met brandewynsous gemaak en dan het ons die volgende dag weer daarvan geëet. Ons tafel was doodgewoon gedek en ons sou miskien Kershoedjies opsit net vir die pret. Ons het Oukersaand ook ons geskenke uitgedeel. Die volgende dag het ons verskillende slaaie – aartappel, wortel, beet, kerrieboontjies – voorgesit saam met vleis wat dalk die vorige aand oorgebly het. Beestong met mosterdsous was ook een van ons gunsteling disse vir Kersdag. Niks fancy nie, maar lekker”, vertel Elsa.

Sy onthou nog hoe sy en haar sussies haar ma weke voor Kersfees moes help om klein koekies te bak. “Ons was lekker dikbek en het dan die helfte van die rou deeg ook opgeëet”, lag sy.

As sy vandag ‘n mooi Kerstafel moet dek, sal sy dit met ‘n gewone wit tafeldoek en mooi wit lapservette doen. Sy sê dat sy borde afwissel wanneer sy dek. “Ek sal nie meer stelle van ses of 12 borde koop nie. Ek dek byvoorbeeld een mooi wit bord en twee blou Delft-borde en wissel dit dan weer af met wit borde wat dalk ‘n mooi patroon het en dan weer hier en daar ‘n blou Delft-bord. My glase is ook nie almal dieselfde nie. Ek dek sommer verskillende glase by elke bord. Wanneer ek ‘n mooi glas sien, sal ek dalk een of twee daarvan koop. Dek is eintlik maklik”, gaan sy voort.

Elsa se kookkuns word gekenmerk deur eenvoud. Sy gebruik min bestanddele, maar dit moet bestanddele van goeie kwaliteit wees. Sy hou ook daarvan om met vars kruie kos te maak. Haar spyskaart wat sy uitgewerk het, getuig van eenvoud.

Die skaapblad sal sy net met olyfolie smeer en met sout, peper, basilie of roosmaryn geur. Dit word dan stadig in die oond gerooster. Dit bedien sy met tradisionele gebakte aartappels, ‘n botterskorsie en soetpatat gebakte gereg en gestoomde Franse groenbone met botter en swart peper. Vir nagereg sal sy doekpoeding of meringue-nessies met wit sjokolade jogurt en bessies voorsit.  

Spyskaart

Hoofgereg
Geroosterde lamsblad
Gebakte aartappels
Gebakte botterskorsie- & soetpatatgereg
Gestoomde groenbone met botter en swart peper  

Nagereg
Doekpoeding met brandewynsous  en kondensmelkvla
of
Meringue-nessies met wit sjokolade jogurt en bessies  

RESEP – Gebakte Botterskorsie- en soetpatatgereg 

Botterskorsie en soetpatatgereg. Foto: Verskaf

1 kg botterskorsies, geskil en in dun skyfies gesny
700 g soetpatat, geskil en in dun skyfies gesny
1 medium ui fyn gesny
Sout en peper
375 ml room
15 ml tiemie, gekap
Sout en gemaalde peper na smaak
70 g Fetakaas
Rangskik die botterskorsie- en soetpatatskywe met die uie in ‘n groot oondbak.
Sprinkel sout en peper oor die groente. Roer die room, tiemie, saam in ‘n klein bakkie.
Giet die roommengsel oor die pampoen- en patats.
Meng liggies en krummel fetakaas oor pampoen- en patatmengsel.
Bedek die oondpan met foelie en bak vir 45 minute totdat groente sag is.
Verwyder foelie en bak vir nog 20 minute tot goudbruin.

Dié resep is baie veelsydig en as daar oorbly kan dit in ‘n quiche gebruik word.
In die winter kan jy dit wat oorbly ook met hoenderaftreksel versap en daarna verhit vir ‘n heerlike sop.  

RESEP – Wit sjokolade jogurt resep
1 liter dubbelroom jogurt (Griekse jogurt)
150 g Milky Bar
Verhit die dubbelroom jogurt in ‘n pot net totdat dit louwarm is. (Die jogurt mag nie kook nie).
Breek die Milky Bar sjokolade in blokkies en gooi dit in die jogurt. Roer die mengsel tot die sjokolade gesmelt is.
Plaas die jogurtmengsel terug in die yskas totdat dit gestol is.
Skep lepels vol van die sjokoladejogurt in die meringue-nessies en versier met bloubessies, frambose of aarbeie.  

RESEP – Geroosterde lamsblad

Geroosterde lamsblad. Foto: Verskaf

1.8 kg skaapblad met been

30 ml olyfolie

10 ml sout

5ml swart peper

Knoffelhuisies 8 Roosmaryntakkies

250 ml water

Sous

30 ml meel

500 ml biefaftreksel / 250 ml rooiwyn en 250ml biefaftreksel

Sout en peper

Voorverhit oond by 240 °C. Vryf die lamsblad in met olyfolie, sout en peper.
Gebruik ‘n dun skerp messie en maak diep gaatjies in die lamsblad sonder om deur die onderkant van die blad te steek.
Stop die gaatjies met roosmaryntakkies  en knoffelstukkies.
Plaas die lamsblad in die oondpan en voeg die 250 ml water in die pan en bedek dit met ‘n dubbellaag foelie.
Plaas blad in die oond en verlaag die temperatuur tot 180°C en rooster die blad vir drie ure. Verwyder die foelie na drie ure en verhoog die oondtemperatuur tot 220 °C en rooster dit vir ‘n verdere 20-30 minute tot goudbruin.
Verwyder die lamsblad uit die oondpan en plaas dit op ‘n opdienbord.
Maak dit toe met foelie en laat dit vir 20 minute rus.
Sous
Draai die bak skuins en skep die meeste van die vet bo-op af.
Plaas die oondpan op die stoof en voeg die meel by terwyl jy roer.
Voeg die aftreksel/wyn geleidelik by en kook vir ‘n paar minute totdat sous verdik.
Geur met sout en peper indien nodig en giet dit in ‘n sousbak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button