Vir die afgelope 28 jaar is Hans Kleyn (70), sportafrigter en houtwerkonderwyser by Amelia Nasorgsentrum, die vaderfiguur vir talle atlete en inwoners.

Sy werketiek en doelgerigtheid is iets wat kenmerkend is van sy tyd daar, waar hy talle SA rekordhouers vir atlete met gestremdhede en downsindroom opgelewer het.
In middel Desember 2021 het Kleyn na amper drie dekades afgetree en Amelia vaarwel geroep waar hy vir eers op sy byeboerdery en houtwerk as stokperdjie sal fokus.

“Ek kan nie regtig stilsit nie. Die inkomste wat ek uit die heuning kry is ‘n goeie ekstra inkomste,” vertel Kleyn. Hy was juis voor die onderhoud nog doenig in sy werkswinkel.
Kleyn noem ook dat hy destyds op ‘n plaas geboer het toe hy die pos by Amelia Nasorgsentrum aansoek gedoen het. Hy het voorheen onderwyservaring as houtwerkonderwyser by HTS Klerksdorp gehad.
“Ek het by Amelia as ‘n houtwerkinstrukteur begin, waar ek die inwoners gehelp het om klein meubels te maak en dit het deur die jare baie gegroei. ‘n Mens kan sien dat dit die menswaardigheid en selfvertroue van die inwoners verhoog wanneer daar komplimente oor hulle houtwerk is,” sê Kleyn.
Sport was een van die groot leemtes by Amelia met Kleyn se aankoms in September 1993, maar hy het vinnig probeer om sport ‘n groot deel van Amelia te maak.
“Atletiek was nog altyd een van Amelia se groot sportsoorte met Tinkie Myburgh en Tony Ferreira wat SA kleure behaal het. In 2005 was Hannes Gouws die wereldkampioen in hoogspring,” noem Kleyn.
Hy vertel ook dat sokker ‘n groot rol speel om die hand-oog koordinasie te verbeter.
“By Amelia het ons nie ‘n groot sportveld nie, maar ons het die beste gedoen met wat ons gehad het. Ons het ‘n verspringput ingerig en gereeld drafsessies gedoen om atlete mooi fiks te hou.”

2016 was ‘n gloriejaar vir Amelia toe ‘n derde van die SA span vir die Wêreld Trisome atletiekkampioenskappe in Italië uit Amelia se atlete bestaan het.
“Melanie Barnard (gewigstoot en werpskuif) en Hannes-Walt de Klerk (1500m stap) behou tans nog steeds die wêreldrekords, en was van Amelia se beste atlete,” vertel Kleyn wat in 2016 ook die hoofafrigter van die SA span was.

“Die Here was deur die jare baie goed vir ons. 13 atlete van Amelia het SA kleure verwerf. Amelia se atlete het ook altyd uitstekend in swem, krieket en atletiek presteer,” noem hy terwyl hy ‘n wisseltrofee vashou wat Amelia sedert 2008 behou het.
Met die Covid-19 pandemie het sport vir eers by Amelia Nasorgsentrum stilgestaan, aangesien gesondheid en veiligheid nou top prioriteit is.
“Ons het wel verlede jaar aan die Buiteklub Rolbal se rolbaldag deelgeneem wat altyd ‘n groot plesier is. Dit is vir sommige inwoners die eerste keer sedert die pandemie dat hulle buite Amelia se gronde kan kom. Almal het dit baie geniet,” vertel Kleyn.

Kleyn se wenresep vir Amelia se sukses op sportgebied bestaan uit harde werk en baie motivering. Dit is duidelik dat Amelia se inwoners sy teenwoordigheid gaan mis.
In 2018 is Kleyn ook vereer met ‘n groot selfportret potloodskets wat steeds in sy huis hang. Een van Amelia se inwoners het dit geskets met talle boodskappe wat aan hom opgedra is, aan die agterkant van die raam.
“Dit was ‘n baie speisale en onverwagse geskenk daardie,” onthou hy terwyl hy weer na die boodskappe kyk.
“Ek hou daarvan om mense aan te spoor en te sien dat hulle hul doelwitte bereik. Dit was nog altyd ‘n hoogtepunt vir my. Dit is vir my die beste as as ‘n mens daardie trots en glimlagte op hul gesigte sien.”



