Een van Potchefstroom en Suid-Afrika se skaaklegendes, Chris Greyling, is op 20 Januarie op 84-jarige ouderdom aan Covid-19 oorlede.
“Oom Chris” soos baie van sy skaakleerders en die skaakgemeenskap hom leer ken het was een van die vernaamste mentors en afrigter vir talle blink skaakspelers die afgelope 14 jaar in Potchefstroom.
Chris was veral by Laerskool Mooirivier betrokke waar hy die skool se skaak na ‘n nuwe uitnemende vlak gebring het.
Chris (gebore 13 Augustus 1937) het op Carolina grootgeword en skoolgegaan. Hy is getroud met vier kinders en gaan boer op Badplaas. Na sy aftrede is hy na Pretoria waar hy sy passie vir skaak uitleef in die voltydse afrigting vir kinders. Hy het op verskeie skaakkomitees gedien en in 2007 vestig hy hom op Potchefstroom. Chris het al op 19-jarige ouderdom leer skaak speel en later het sy kinders, Isabel, Pieter, Jannie en Petro ook belowende jong skaakspelers geword.
In die beginjare was skaak ‘n spel wat oorwegend deur Engelse klubs gespeel is. Chris en een van sy vriende, Martin Serfontein, het toe besluit om skaak op skolevlak aan te bied, met die gevolg dat Afrikaanssprekendes die oorgrote meerderheid geword het. Landswyd is daar unies gestig – iets waarvoor Chris hom beywer het.
Hy het in 1994 afgetree om voltyds aandag aan skaak te gee en het toe vanaf Badplaas na Pretoria verhuis. In die Jakarandastad het hy vyf toernooie tot stand gebring, naamlik die Blou Bul Ope, Pretoria Ope (nou Chris Greyling Ope), Jakaranda Ope, Centurion Ope en die Mini Middies.

Na hewige teenstand van Skaak SA is die Mid-Gauteng skaakunie uiteindelik gestig. In 2006 was dit die sterkste unie in laerskole skaak in Suid-Afrika. Hy het ook gehelp om die Platina Skaakunie te stig.
Toe hy in 2007 na Potchefstroom verhuis was skaak feitlik tot niet. In 2008 het Chris die SA Skaakkampioenskappe in Potch aangebied, nadat geen ander provinsie dit wou doen nie. Onder sy bekwame leiding en deeglike organisasie was die toernooi ‘n groot sukses met 1700 spelers wat deelgeneem het.
Vir die eerste keer in NW skaakgeskiedenis is daar in 2009 ‘n o.8 span as SA kampioene gekroon. In 2010 word Luan Roos as die o.12 SA kampioen gekroon. In 2011 het Chris begin om ‘n skaakkursus vir die Noordwes Universiteit se onderwysstudente aan te bied.


Chris was ook natuurlik betrokke met skaakonderrig by verskeie skole. Laerskool Mooirivier het gereeld in die Super 12 skaaktoernooi presteer en puik uitslae behaal. Chris het vanaf Januarie 2009 ook ‘n weeklikse skaakrubriek in die Noordwes Gazette behartig, genaamd “Skaak met Chris.”
Dit was baie gewild onder lesers wat skaaktegnieke asook saaknuus bevat het. Gedurende sy skaakloopbaan het meer as 6000 kinders deur sy hande gegaan. Hy kon die kinders motiveer en opgewonde maak oor skak. Vir hom was elke kind ‘n kampioen in eie reg.
Nog gebeurtenisse wat ‘n groot indruk op sy lewe gemaak het was toe hy sy dogter Isabel in 1982 na Amerika geneem het om aan die Wêreld Ope deel te neem. Hy het ook die voorreg gehad om die SA damesspan van 1998 na Rusland te neem en het as kaptein en spanbestuurder opgetree. Hy het dit beskou as die hoogtepunte van sy skaakloopbaan. Sy nalentenskap sluit ook die verhoudings in wat hy om die skaakbord met talle Potchefstromers gemaak het.
Chris was ook betrokke by ‘n geslote Skaakklub wat alreeds 45 jaar bestaan. Rudy van der Spoel is een van die stigterslede wat nog oor is. Hulle het gereeld een keer per maand bymekaargekom vir n potjie skaak, totdat Covid-19 regulasies dit tot ‘n einde laat kom het. Chris het elke maand daarna uitgesien om skouers te skuur met persone soos Japie Spoelstra, Jan Swanepoel, Herrie van Rooy, Rudy van der Spoel, Bert Ubinck en nog ‘n paar wat verhuis het. Dit was gesellige, informele, sosiale byeenkomste wat elke maand by ‘n ander speler se huis plaasgevind het.
Chris se gesondheid het so teen Junie 2021 begin verswak, maar hy het volgehou met lesgee by ‘n paar skole tot November 2021 op die ouderdom van 84 jaar. Hy hey sy krag daagliks uit gebed geput.
“Ons was 15 en ‘n halfjaar getroud, elkeen ‘n tweede huwelik. Ons het mekaar ruimte gegun om elkeen sy passie uit te leef. Hy was sagmoedig en nederig en het nie sy prestasies aan die groot klok gehang nie. Hy sal gemis word, maar sy skaaknalentenskape sal in vele harte voortleef,” noem sy vrou Sophia.
Chris se volledige skaakloopbaan is pragtig opgeteken in sy boek “Skuif na Prestasie!” Dit bevat skaakinligting, riglyne vir beter konsentrasie, skaaklesse beginners tot gevorderd gepaard met volkleurfoto’s. Belangstellendes kan Sophia by 082 871 4671 kontak.



