‘n Bekende en geliefde inwoner van Potchefstroom, prof. Elizabeth Coertse, beter bekend as Bessie, is op 27 Januarie in die ouderdom van 98 jaar oorlede.
Bessie was die dogter van Pieter en Kitty le Roux. Sy is in 1923 in Prieska in die Groot Karoo gebore en was die tweede oudste van ses kinders.

Haar ouers verhuis later na Potchefstroom, waar sy haar skoolopleiding voltooi. Daarna begin sy met haar verpleegopleiding in Florida, wat sy later by die Algemene Hospitaal in Pretoria voortgesit het.
In September 1945 kwalifiseer sy as Algemene Verpleegkundige en in 1948 as Verloskundige Verpleegkundige. Daarna aanvaar sy ‘n betrekking by die Potchefstroom Hospitaal en was later in bevel van die hospitaalafdeling. Sy ontvang opleiding in radiografie aan die Pretoria Akademiese Hospitaal. Sy keer terug na Potchefstroom Hospitaal en vestig ‘n baie suksesvolle radiografie-afdeling.
Sommige van haar x- straalfoto’s van seldsame siektetoestande is op uitruilbasis na verskeie wêrelddele gestuur. Ongelukkig was die persoonlike beskerming teen die nadelige effekte van x-strale destyds nie voldoende nie. Sy ontwikkel bloedarmoede as gevolg van oorbestraling en moes toe bedank.
Eie aan haar geaardheid was die struikelblok slegs ‘n uitdaging en in 1951 verwerf sy haar diploma in Verpleegonderwys aan die Universiteit van Pretoria en aanvaar ‘n betrekking as dosent in Anatomie aan die Witwatersrand Verpleegsterskollege. Dit is ook hier waar sy haar toekomstige man ontmoet het. In 1952 trou sy met dokter Roelof Coertse (oudste broer van Mimi Coertse).
Hulle vestig hulle in Melvine, waar sy Roelof in sy praktyk help. Uit die huwelik is twee dogters gebore, Elizabeth en Leonie. Roelof sterf op 6 Junie 1957 aan kanker en laat haar met twee klein kindertjies van onderskeidelik 3 jaar en 15 maande, wat sy deur haar lewe oneindig liefgehad het, agter. Hiervandaan durf sy die lewenspad alleen aan, geanker in haar God. Bessie keer terug na Potchefstroom en aanvaar ‘n betrekking as dosent aan die Kollege van Verpleegkunde in Klerksdorp.
Die volgende jaar skryf sy voltyds in vir ‘n B.A.- graad aan die P.U. vir C.H.O. Sy voltooi ook ‘n anatomie-kursus gedurende die drie maande vakansie aan die einde van die jaar. Haar moeder en vertroueling sterf in 1959.
Lettie Goliath, ‘n wonderlike, dierbare mens en groot Christen word deur die Here aan haar gestuur en word haar steunpilaar met die bestuur van die huis en die versorging van haar klein kindertjies, terwyl sy voltyds werk. Haar jongste broer (toe nog ongetroud) het by haar in die huis ingetrek en word ‘n vaderfiguur vir die kinders.

Bessie voltooi haar B.A.-graad in die begin van 1963 en haar Universiteitsonderwysdiploma in Desember van dieselfde jaar. Sy aanvaar ‘n tydelike dosentepos in die Departement Geografie en terselfdertyd doen sy haar B.A. Honneurs in Geografie, wat sy in 1964 voltooi.
In daardie tyd word die Universiteit deur die Provinsie genader om ‘n graadkursus in Verpleegkunde in te stel. Destyds was dit nog net die Universiteit van Pretoria wat so ‘n kursus aangebied het. Selfs in Europa was daar geen soortgelyke tersiêre kursus nie. As ‘n uiters goed geskoolde verpleegkundige, verbonde aan die departement Geografie word sy genader om die kursus te begin.
Wetende dat sy uit niks iets moes maak, het sy die uitdaging om onderrig- en navorsingsprogramme te skep, aanvaar. Die goeie nuus word wyd op Vrydag, 3 Desember 1965 deur die media bekend gemaak o.a.: “Verpleegster word lektrise aan PUK.” “Met die totstandkoming van die nuwe B.A.-kursus vir verpleegsters aan die Potchefstroomse Universiteit is mev. Elizabeth Coertse as senior lektrise in die Departement Verpleegkunde aangestel”.
So begin haar 18 jaar as departementshoof by die Departement van Verpleegkunde aan die P.U.vir C.H.O. Sy begin vrou-alleen om al die drade bymekaar te trek en om die eerste opleidingsjaar van vier jaar van die grond af te kry. Sy stel ‘n kurrikulum op wat al die dissiplines van Verpleging omsluit en wat in ‘n noue verhouding met talle ander wetenskappe soos die geestes-, sosiale en natuurwetenskappe staan. Later kon sy nie alles meer alleen hanteer nie en het sy lektrises aangestel. So het die departement begin groei.
Behalwe haar verpleegopleidingsverantwoordelikhede, werk sy ook nou saam met die Universiteitsraad en Senaat, skep en handhaaf professionele verhoudinge met die Suid-Afrikaanse Verpleegstersraad en -vereniging; het noue verbintenis met die Provinsiale Administrasie en Gesondheidsdepartement (waaronder hospitale resorteer); handhaaf ‘n goeie verhouding met die gemeenskap en doen landwyd reklame vir die beroep.
Die vier jaar graad (B.Art.et.Scien. Verpleegkunde), wat sy ingestel het, laat die student toe om direk met ‘n meestergraad te kon aangaan. Verskeie nagraadse diplomas volg en op aanvraag van die Regering stel sy ook ‘n nagraadse studiekursus in, naamlik Industriële Verpleegkunde (Bedryfsverpleegkunde).
Anatomie en histologie word aangebied en om dit nog meer wetenskaplik te maak, beywer sy haar om ‘n skool vir Anatomie tot stand te bring. Sy het geglo dat dit feitlik onmoontlik is om die menslike funksies van die liggaam te verstaan, sonder kennis van die anatomiese strukture, wat die basis van fisiologie vorm. Sy het ook geglo dat anatomie meer wetenskaplik aangebied kan word deur ‘n Anatomieskool en dat dit saam met die toegepaste fisiologie ‘n holistiese beeld sal skep, wat tot groter begrip sou lei. Sy het baie teenkanting van die Universiteit en van die Provinsiale Administrasie gekry – maar na baie onderhandelinge en die geloof dat dit die beste vir die verpleegstudente sou wees, word die Anatomieskool aan die Universiteit van Potchefstroom toegeken.
Sy was nie net die grondlegger van die Skool vir Verpleegkunde nie, maar ook van die Skool vir Anatomie aan die P.U.vir C.H.O., nou bekend as NWU. Die NWU is steeds die enigste Universiteit wat oor ‘n skool vir Anatomie beskik, sonder dat dit aan ‘n Mediese Fakulteit gekoppel is. Die Anatomieskool gee nie net aan verpleegkundiges nie, maar ook aan studente van ander dissiplines, soos spraakleer, drama en fisiologie ‘n grondige kennis van anatomie. ‘n M-status word aan haar toegeken deur die PUK a.g.v haar akademiese rekord en mondelinge eksamens.
Haar doktoraal handel oor die ”Aspekte van die Verpleegsteropleiding aan die Universiteit”. Sy doen baie navorsing hieroor en vertrek ook op ‘n studietoer na die VSA, Kanada en verskeie Wes- Europese stede om inligting te versamel. Sy ontvang haar D.Phil. en lewer haar intreerede as hoogleraar in Mei 1976 en word aangestel as die derde vroulike professor aan die P.U.vir C.H.O. Sedert 1978 word meesters- en doktorsgrade ook in verpleegkunde aan die Potchefstroomse Universiteit aangebied.
In 1983 tree sy uit die verplegingsprofessie, maar eie aan Bessie, met haar droë humorsin en haar geloof in God, begin sy weer met iets nuuts! In 1990 ontvang sy haar B.A.-graad in Beeldende Kunste aan die Universiteit van Unisa en hou daarna ‘n paar uitstallings van haar grafiese kunsskeppings. Van haar skilderye is o.a. deur die NWU aangekoop. Van dit hang in die kunsmuseum.
‘n Kanseliersmedalje is deur die PUK op 17 Maart 2001 aan haar toegeken en ‘n oorkonde op 9 Junie 2006 deur die Skool vir Verpleegkunde. Bessie was ook baie betrokke by die N.G. Kerk Die Bult, waar sy vir jare Sondagskool gegee het. Om haar Bybelkennis te verdiep het sy Bybelse argeologie deur Unisa gedoen. Sy het ook baie mense aangeraak deur haar lewenservaring en deur hulle te motiveer om verder te studeer en ‘n sukses van hulle lewens te maak.
Op 90 jaar skryf sy haar lewensverhaal “Palet van ‘n Lewe”. Daar is nog eksemplare van die boek beskikbaar. Bestellings kan geplaas word by die volgende e-posadres leoniedb@zoningapply.co.za.
Sy was werklik ‘n legende, ‘n formidabele vrou. Een uit ‘n duisend.









