Local newsNewsNews

Retha wys wat ware vrouekrag beteken

Haar liefde vir die gemeenskap het haar vanjaar verder aangespoor toe sy in Maart die inisiatief geneem het om die Ventersdorp Sakekamer te stig.

Vir Retha Heymans is krag nie altyd iets wat hard en sigbaar is nie. Soms beteken dit eenvoudig om, selfs op moeilike dae, net nog een tree vorentoe te gee.

Retha is in Rustenburg gebore en het in 1992 aan Swartruggens Gekombineerde Skool gematrikuleer. Sy en haar gesin woon reeds 31 jaar in Ventersdorp. ’n Dorp wat oor die jare ’n baie spesiale plek in hul harte ingeneem het.

Saam met haar gesin is Retha betrokke by verskeie besighede in Ventersdorp, waaronder ’n boumateriaalwinkel, ’n elektriese kontrakteursfirma en ’n onderneming wat grootmaat-drukwerk doen.

Haar liefde vir die gemeenskap het haar vanjaar verder aangespoor toe sy in Maart die inisiatief geneem het om die Ventersdorp Sakekamer te stig, met die ondersteuning van verskeie plaaslike ondernemings.

Volgens Retha het die sakekamer reeds binne ’n kort tyd groot projekte aangepak en suksesvol voltooi.

“Dit is vir my ongelooflik belangrik om ’n positiewe bydrae tot ons gemeenskap te lewer en saam met ander besighede iets op te bou wat ’n verskil kan maak,” sê sy.

Retha Heymans het die Ventersdorp Sakekamer vanjaar gestig. Foto: Ventersdorp Sakekamer/Facebook

Vir Retha lê haar grootste bron van krag egter nie net in haar werk en gemeenskapsbetrokkenheid nie, maar ook in haar gesin.

Sy is getroud met Andries Heymans en die egpaar is geseën met twee kinders en een kleinkind.

“My gesin en die mense vir wie ek lief is, is ’n groot bron van krag en motivering in my lewe,” sê sy.

Hoewel Retha tans met haar gesondheid sukkel, laat sy nie toe dat die moeilike dae haar hoop wegneem nie.

“Ek het geleer dat jy nie altyd gemotiveerd of sterk hoef te voel om aan te hou nie. Party dae beteken dit eenvoudig om net een klein tree op ’n slag te neem.”

Vir haar is daar altyd ’n rede om voort te gaan.

“Ek sal aanhou, omdat ek glo dat daar altyd iets is om voor te hoop, iets om voor te veg en iets om voor dankbaar te wees.”

Dit is ook die boodskap wat sy graag tydens Vrouemaand aan ander vroue wil oordra: Moenie ooit vergeet hoe sterk jy werklik is nie.

“Jy hoef nie altyd sterk te voel om sterk te wees nie. Daar gaan tye wees wanneer jy bang en onseker is, wanneer jy huil en wonder of jy dit gaan maak. Dit beteken nie jy is swak nie, dit beteken jy is mens.”

Retha glo vroue moet leer om ook sag met hulself te wees.

“Luister na jou liggaam. Staan op vir jouself en moenie bang wees om hulp te vra nie. Jy hoef nie alles alleen te dra nie.”

En dalk is haar belangrikste boodskap een wat elke vrou op moeilike dae moet onthou: jou waarde word nie bepaal deur dit wat met jou gebeur nie.

“Jy is steeds genoeg, selfs op die dae wanneer jy self sukkel om dit te glo.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button