VF Plus in samewerking met Potch gemeenskap verleen 1000 liter-watertenkwa aan PAWS Haven
Volgens die VF Plus is bykans 'n halfton troeteldierkos ook ingesamel.
Die VF Plus-koukus in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit het hierdie week hul hande en harte oopgemaak aan die PAWS-Haven -dierehawe in Potchefstroom nadat die instelling kragonderbrekings vir twee dae ervaar het.
Hierdie skielike uitdaging het die VF Plus genoop om in samewerking met weldoeners en gemeenskapsorganisasies ‘n 1000 liter-watertenkwa aan PAWS Haven beskikbaar te stel om die onmiddellike waternood van die diere te verlig en higiëniese toestande op die terrein te verseker.
Volgens die VF Plus is bykans ‘n halfton troeteldierkos ook ingesamel.
“Die VF Plus wil sy dank uitspreek teenoor die Potchefstroom-gemeenskap wat op kort kennisgewing onbaatsugtig opgetree het om hierdie hulp moontlik te maak,” noem VF Plus raadslid, Zelona van der Merwe.
“Hierdie aksie belig weer die krag van gemeenskappe wat saamstaan in tye van nood. Die VF Plus sal voortgaan om die belange van inwoners, asook diere se welstand in JB Marks, voorop te stel.”



