Waar daar eers ‘n oop stuk grond was, is daar nou hoop met die oprigting van ‘n splinternuwe sorgfasiliteit vir bejaardes in Promosa.
Die Safe Haven Age Care Facility is die breinkind van Nola Petersen, ‘n verpleegster wat ‘n groot hart vir bejaardes het. Sy het in Oktober 2020 met die projek op ‘n oop stuk grond begin en nou, 18 maande later, is haar droom besig om te realiseer met die sentrum wat op 8 Maart amptelik geopen is.
Nola, wat vir ses jaar in Australië ‘n direkteur van ‘n ouetehuis was voordat sy in 2014 na Potchefstroom teruggekeer het, het haar persoonlike spaargeld en lenings by die bank gebruik om hierdie projek te befonds.
“Ek wil hê dat Safe Haven een van die uitstaande tuistes vir bejaardes in die J.B. Marks area is en die gemeenskap bedien, veral dié wat nood het. Dit is vir my belangrik om ‘n verskil te maak. Ouer mense moet hulle menswaardigheid behou en nie net in ‘n kamer gehou word nie,” meen sy.
Debbie Beukes, Patriotic Alliance wyksraadslid van wyk 21, het ook aandag gevestig op die verskil wat Petersen in haar wyk maak. Hierdie sentrum bevat onder meer reeds drie slaapkamers met beddens, ‘n eetarea, ‘n gemeenskaplike woonarea, sowel as badkamers en ‘n kombuis.
Al is alles nog nie heeltemal funksioneel nie, is daar groot planne op die horison om die Safe Haven Age Care Facility in ‘n veilige en betroubare fasiliteit te omskep. Op hierdie stadium word daar op Dinsdae en Donderdae voorsiening vir bejaardes vir dagsorg gemaak.
Daar word middagetes voorberei en verskillende aktiwiteite word gedoen. Hierdie aktiwiteite sluit onder meer hekel, brei en verf in. Nola beoog ook om fisioterapie en arbeidsterapie vir bejaardes te bied. Nola kan ook self as verpleegster medisyne toedien aan die bejaardes en so die reikwydte van diens vergroot. “Ek wou graag terugkom en teruggee vir die ouer mense hier,” meen Nola wat self aan Promosa Sekondêr gematrikuleer en in die area grootgeword het.
Saterdag, 26 Maart is daar ook ‘n suksesvolle uitverkoping aangebied waar kos sowel as ander selfgemaakte produkte verkoop is om fondse vir hierdie fasiliteit in te samel. Ander benodigdhede wat Nola benodig is ekstra mediese beddens, relings vir die badkamers, hangkaste, sowel as veilige tafels en stoele waar die bejaardes hulle middagete kan geniet of net kan ontspan.
“Ek het reeds so ver gekom en ek is opgewonde oor die verskil wat ons hier kan maak. Enige hulp van die gemeenskap sal opreg waardeer word,” sê Nola.
Vir navrae kan Nola by 072 343 6603 gekontak word.









