Toe Jan en Sankie du Preez 70 jaar gelede op 12 April 1952 die knoop in Ugie in die Oos-Kaap deurgehaak het, het ‘n liefdesreis vol herinneringe begin.
Daardie reis het die afgelope Dinsdag ‘n baie spesiale bestemming bereik met die viering van hulle 70 jaar saam as getroudes. Hierdie paartjie is inwoners van Samuel Broadbent Ouetehuis in Du Plooystraat en woon al vir vier jaar daar.
Jan (91) is ‘n voormalige polisieman en Sankie (89) ‘n voormalige posmeester by die poskantoor. Jan noem dat hy Sankie by een van sy rugbywedstryde vir die polisie in Umtata ontmoet het.
Sankie het daardie dag saam van die rugbyspelers na die wedstryd gery.
“Dit was baie toevallig dat dit so gebeur het. Dit is van daardie dag af waar alles verander het. Ons was sowat ‘n jaar later verloof en is kort daarna getroud,” vertel Jan.

Jan se werk in die polisie het beteken dat hierdie paartjie die hele land rondgereis het as getroudes. “Ek onthou ons het baie rondgetrek omdat my man baie verplaas was in sy werk as polisieman. Hy is medies ongeskik verklaar en ons het toe Potchefstroom toe getrek in 1973,” noem Sankie.
Dit is in Potch waar hulle hul familie gevestig het en behoorlik anker gegooi het.

“Geduld en genade…veral genade is deel van ons wenresep vir die huwelik,” noem Jan met ‘n glimlag, terwyl Sankie haar kop knik en saam glimlag. Dit is duidelik dat hierdie twee mense vir mekaar bedoel is en na 70 jaar blom die liefde steeds. “Dit is werklik lekker om saam oud te word. Dit is ‘n groot voorreg en seën,” meen Sankie.
“Ons het voorheen baie tennis en pluimbal saamgespeel. Ek het ook gereeld gehekel, maar ek sukkel met rumatiek in my hande,” vertel sy verder. Jan het steeds ‘n groot voorliefde vir rugby en al kan hy nie meer speel soos in sy jong dae nie, kyk hy graag die spel op televisie. “Daar is net een span en dit is die Blou Bulle,” noem Jan.
Jan en Sankie het vier kinders (Jan, Susan, Erna en Piet) en met hulle gesondheid en breinkrag skort daar niks. Hierdie vriendelike paartjie dra beslis hulle jare goed.
“Ons voel soms ons raak ouer, maar die belangrikste is dat ons daar is vir mekaar. Dit maak oudword lekker.”




