
‘n Tuinier is vandag (Woensdagoggend, 20 April) deur twee pitbulls gebyt wat uit ‘n erf in Beyers Naudelaan gekom het. Die tuinier, Butiki Kiewiet Hugo, was omstreeks 08:00 buite die erf besig om blare te hark toe die twee honde op hom afgestorm het.

Inwoners in die straat het Hugo hoor skree en die honde hoor blaf en hom toe inderhaas probeer help. Die eienaar van die twee pitbulls, mnr. Boeta de Bruyn, het ook uit sy erf gekom en die honde in die erf teruggeroep.
Hugo is aan sy arms en hande gebyt en volgens ooggetuies was hy nog in skok na die voorval toe hy met ‘n ambulans na Potchefstroom Hospitaal vervoer is. Hy is later die middag ontslaan en moet vir opvolg besoeke gaan. Teen druktyd was Hugo by die Potchefstroom polisiestasie om ‘n verklaring af te lê.

Een van die inwoners, Marco van den Berg, noem dat hy probeer het om ‘n wapen te gaan haal toe hy vir Hugo sien met die honde wat aan sy arms byt.
“Die eienaar het gelukkig gekom om sy honde af te haal, maar dit is baie gevaarlik dat sulke groot honde net kan uitkom. Skoolkinders van Potchefstroom Primary loop daagliks in hierdie straat. Wat sal gebeur as die honde ‘n skoolkind byt?,” sê hy.

Besorgde inwoners in die straat noem dat dit nie die eerste keer is dat hierdie honde mense byt nie. De Bruyn se bure, Johanna (66) en Willie Venter (70) vertel dat hulle in November verlede jaar ook deur sy pitbulls aangeval is.
“Ek was in my eie erf vroeg die oggend so teen 06:00 toe een van sy pitbulls my aan my nek en bors gebyt het. Ek was op die grond en die hond het my gesleep. Ek het magteloos gevoel, asof ek amper sou doodgaan,” vertel Johanna tranerig terwyl sy die trauma herleef.

Haar man Willie, het toe probeer help, maar hy is ook omgestamp en het beserings aan sy knieë opgedoen soos wat die hond dit gebyt het. Gelukkig vir die Venters kon Mooirivier Beskerming gou opdaag om te kom help. Aangesien hulle hekke gesluit was, moes die sekuriteitsbeamptes oor die muur spring om bystand te bied.
“Ons was dadelik ongevalle toe en het ‘n saak by die polisie gemaak, maar daar het niks van gekom nie. Dit is baie sleg vir my omdat ons nou nog steeds skrikkerig is om net in ons erf te loop. Ons het die palissades ook hoër gemaak om ons te beskerm,” vertel sy mismoedig.

Mnr. De Bruyn het genoem dat hy nie verstaan hoe die honde kon uitkom om vir Hugo te byt nie.
“Ek het my honde aggressief hoor blaf en toe vir hulle geskree om terug te kom. Ek het ses voet mure en palissades en hulle behoort nie net oor te spring nie, so ek wil steeds verstaan hoe hulle kon uitkom. Ek weet dit is ‘n besige straat en dat baie mense hier rondloop, so ek probeer om die honde agter in my erf te hou. Toe die polisie uitkom het my honde hulle sterte gewaai, so hulle is vriendelik. Ek vermoed dat die honde dalk aangehits was,” het De Bruyn genoem.
Noordwes polisiewoordvoerder, kol. Adele Myburgh, het die voorval bevestig.