
’n Fantastiese verjaarsdagverrassing het Hope Jones op haar 14de verjaardag op Donderdag, 21 April, begroet toe die NWU se amptelike gelukbringer, Eagi, haar en haar gesin in Port Elizabeth (Gqeberha) besoek het om vir haar ’n spesiale verjaardaggeskenk te gee.
Hierdie spesiale geskenk was ‘n getekende Eagi-pop – wat ‘n geskenk was van haar suster, Sarah, wat tans ‘n derdejaar BA sosiologie en arbeidsverhoudingestudent aan die Noordwes Universiteit is.
Daar was nie ‘n droë oog in die huis toe Eagi langs Hope sit en hierdie spesiale pop uit die pakkie haal nie.
Hope, is ‘n kind met spesiale behoeftes wat met spierdistrofie gediagnoseer is. Sy het onlangs vir rekonstruktiewe chirurgie aan haar bene gegaan en het haar suster wat tans studeer, gemis. Dit het Sarah die idee gegee om ‘n spesiale versoek met die NWU en Eagi te reël.
Volgens Sarah wou sy oorspronklik net hê dat die getekende Eagi-pop afgelewer moes word, en nooit gedink dat Eagi persoonlik vir Hope gaan kuier nie.
“Ek het nog altyd gevoel dat Eagi my en almal om hom gelukkig maak. Ek wou daardie selfde gevoel vir Hope hê wanneer sy my mis. Hierdie pop kan haar nou aan my herinner en haar gelukkig maak elke keer as sy dit sien. Dit was so ‘n massiewe verrassing toe ek hoor dat Eagi tot by PE sou vlieg,” het Sarah bygevoeg.
Die NWU se gelukbringerkoördineerder, Ruan Meyer, het gesê dat hulle ‘n versoek van Sarah ontvang het en dit geëvalueer het voordat hulle besluit het om Eagi vir hierdie baie spesiale besoek te stuur.
“Ons by die NWU wil Eagi assosieer met ‘n etiek van sorg. Die gelukbringer verteenwoordig hoop en geluk, nie net ‘n handelsmerk nie. Ons wil die ekstra myl loop en ‘n rol speel in ons gemeenskappe regoor SA. Eagi is die verpersoonliking van goeie waardes en positiewe eienskappe,” het Meyer gesê.