NewsNews

Die koningin van kampusradio gereed vir nuwe avontuur

Met die jare het die groeiende onvoorwaardelike liefde vir radio nie net PUKfm se bekroonde stasiebestuurder en aanbieder, Charonike Nel, se lewe verander nie, maar ook die van talle ander in haar gemeenskap.

Dertien jaar gelede het ‘n jong en onbekende maar hoogs gemotiveerde eerstejaar student vanuit Piet Retief in Mpumalanga haar eerste tree by die kampusradiostasie PUKfm 93.6 gegee en onmiddellik verlief geraak.

Met die jare het hierdie groeiende onvoorwaardelike liefde vir radio nie net PUKfm se bekroonde stasiebestuurder en aanbieder, Charonike Nel, se lewe verander nie, maar ook die van talle ander in haar gemeenskap.

Nou sowat ‘n biljoen tree later (met honderde studente wat onder haar leiding deel van die PUKfm familie geword het) verlaat die spreekwoordelike koningin van PUKfm haar gewilde kampusradiotuiste vir ‘n nuwe avontuur.

Dit lei die borrelende en entoesiastiese Charonike na Pretoria by GROOTfm 90.5 – een van die land se grootste gemeenskapsradiostasies waar sy nuwe voetspore gaan trap.

“Ek lewe vir radio en om hierdie geleentheid te kry by GROOTfm en deel van gemeenskapsradio te wees is ‘n groot voorreg en geleentheid. PUKfm sal altyd my familie bly. Die ondervinding en ervaringe van die afgelope 13 jaar in Potch is onbeskryflik,” noem hierdie passievolle radiovrou.

Dit voel amper onwerklik dat Charonike by PUKfm die tuig neerlê – sy het juis al elke moontlike pos hier beklee van jong aanbieder tot die kaptein van hierdie welgeoliede radioskip.

Sy het in Maart 2009 as aanbieder begin en in 2010 die mantel van programbestuurder by Louis Janse van Rensburg oorgeneem. Sy het ook die rol van skakelingsbestuurder beklee, wat haar goed te pas gekom het toe sy in Januarie 2014 as stasiebestuurder aangestel is, en aan die hoof van PUKfm haar stempel kon afdruk.

Charonike het al drie ATKV Mediaveertjietoekennings, tientalle SA Radio Awards nominasies en oorwinnings behaal. Sy noem wel dat een van haar grootste hoogtepunte op haar voortreflike CV juis deel van ‘n groot spanpoging was.

“Dit was een van die beste oomblikke van my lewe toe PUKfm 93.6 as die 2018 Kampusstasie van die Jaar by die Liberty Life Radiotoekennings aangewys is. Veral nadat ons al ‘n paar keer in die vorige jare genomineer was,” noem sy.
Die rol wat radio ook speel om ‘n verskil in die gemeenskap te maak is iets wat Charonike se hart raak.

“Projekte wat ons by PUKfm gedoen het soos Find The Joy wat op geestesgesondheid fokus sowel as Cause for Paws waar ons geld vir diere ingesamel het, is nog hoogtepunte. Die krag van radio om ‘n verskil te maak in die gemeenskap is ongelooflik,” meen sy.

Die verskil wat radio in studente se lewens maak is ook iets waarop Charonike graag klem lê. Volgens haar is PUKfm ‘n opleidingskool waar tussen 30-50 studente jaarliks nie net vir vier jaar al radiobedryfservaring kry nie maar ook ‘n hegte familie word.

Charonike Nel, stasiebestuurder van PUKfm 93.6 vir die afgelope agt jaar, verlaat die tuiste waar sy haar radioloopbaan vlerke gegee het. Sy gaan vanaf Mei as ‘n voltydse omroeper by GROOTFm 90.5 in Pretoria inskakel. Foto: Wouter Pienaar

“By PUKfm is almal familie, maak nie saak wat jou agtergrond is of waar jy vandaan kom nie. By PUKfm kan jy jouself wees en dit uitleef. Eerstejaars kom vind hier hulle plek op kampus en gaan dan na hulle studies die wêreld met ervaring in wat hulle lewenslank kan gebruik. Ek bedoel, 70% van my beste vriende het een of ander konneksie met PUKfm.”

Haar bekroonde radioprogram, RooiwynSondag, was ‘n niche treffer wat harte en siele op Sondae aande aangeraak het. Nes rooiwyn op ‘n koue wintersaand die gemoedere lig, was hierdie program tesame met GatskopMaandag die perfekte afsluiting en begin van die week.

“Om RooiwynSondag vir die laaste keer (Sondag, 24 April) te kon aanbied was emosioneel. RooiwynSondag het ‘n gemeenskap geword, ‘n plek waar jy na ‘n lang week kan asemhaal. Die sukses was dat almal kon aanklank vind. Dit is rou, eerlik en onpretensieus.”

Buiten haar radiowerk was Charonike ook sedert 2015 die NWU se studente mediabestuurder en betrokke as seremoniemeester by die Varsitybeker, NWU geleenthede sowel as ander groot sportbyeenkomste in Potchefstroom.


“Daar is iets spesiaal om deel van studentesport en byeenkomste in Potch te kon wees. Daardie laaste Varsitybekerwedstryd vanjaar tussen NWU en Wits was een van my lekkerste ervaringe. Die skare op die Fanie du Toit was net ongelooflik met soveel gees.”

Charonike was deel van die kampus in al sy veranderende fases. Sy dink met heimwee terug na die 2009-2013 MK Rock-fase waar sy weekliks onderhoude met bands gevoer het en musiekfeeste soos Oppikoppi bygewoon het. Wat nog te praat van die jaarlikse Aardklop Kunstefeeste waar bekende akteurs en aktrises die PUKfm stasie kom besoek het.

“My tyd in die koshuis by Heide Dameskoshuis, die volgepakte Amfi, Intervarsities, al die Sêr-byeenkomste, elke Aardklop…dit was ‘n voorreg om deel van als te wees.”

Deur die jare het sy met talle bekendes die lug gedeel soos die aktrise Antoinette Kellerman en die sangeresse, Amanda Strydom en Laurika Rauch om maar ‘n paar te noem.

“Amanda Strydom sal altyd een van my hoogtepunte bly. Op ‘n internasionale vlak was dit ongelooflik om met Suzie Quatro te kon gesels.”

Nou is daar nuwe deure oop vir Charonike by GROOTfm vanaf Mei met nog talle programme wat aangebied gaan word en lewens wat daardeur geraak word.

“Ek sê altyd dat jy nooit moet dink dat jou idees te veel buite die boks is nie. Ek het al baie ‘nee’ gehoor, maar die aaantal kere wat ek ‘n ‘ja’ gekry het en sukses behaal het, was nog altyd groter as enige teleurstelling.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button