Die Bailliepark Gemeenskapsprojek (BPGP) se suksesverhaal is danksy puik samewerking en ondersteuning van hierdie gemeenskap om in ‘n veilige omgewing te lewe.
Sedert die amptelike verkiesing van die bestuurskomitee van die BPGP in Junie 2021, werk elke komiteelid doelgerig om by te dra tot die veiligheid van die gemeenskap in Bailliepark. Daar is reeds 68 kameras by 23 strategiese punte opgerig en nog 13 kameras word eersdaags by vier addisionele punte bygevoeg.
‘n Daadwerklike afname in misdaad is reeds duidelik te bespeur vandat die kamerastasies opgerig is.
Behalwe vir die bestuurskomitee se toewyding, is hierdie kamera-projek slegs moontlik met die ondersteuning van Bailliepark inwoners.
Die bestuur wil vir elke inwoner dankie sê wat rééds ‘n lid is en finansieel tot die Bailliepark Gemeenskapsprojek bydra.
By die Algemene Jaarvergadering is daar besluit om ook aandag te skenk aan die herstel van slaggate en straatligte, asook om spoedhobbels te verf en straatnaamborde op te rig. Twee groot slaggate is reeds in die week van 28 Maart in Piet Cronjestraat deur BPGP herstel.
Daar is ook intussen slaggate in Hattinghstraat reggemaak en die komitee en Bailliepark inwoners beoog om Saterdag, 7 Mei nóg slaggate te herstel.
Vir hierdie doel is ‘n Teer & Verf-projek begin, wat afsonderlik befonds moet word. Sodoende kan die maandelikse lede-bydraes steeds aangewend word om die uitbreiding van die kameranetwerk te befonds.
Enige donasies is welkom en kan in die BPGP bankrekening inbetaal word met die verwysing Teer & Verf. (FNB, rekeningnommer 62903594374, takkode: 210835).
Johann Venter, voorsitter van BPGP, sê: “BPGP is die voertuig wat dinge gaan laat gebeur in Bailliepark. Of dit nou veiligheid is of instandhouding – ons kla nie meer nie, ons wag nie meer nie, ons doen nou iets daaraan.”
Alle inwoners is welkom om enige van die komiteelede te kontak indien daar enige vrae is, of as hul persoonlik by die Teer & Verf-projek betrokke wil raak.
Altus Klingenberg kan by 082 442 1750, Johann Venter by 082 875 0947 of Anné van Onselen by 082 441 4412 gekontak word.
Besoek ook die BPGP se webblad vir meer inligting by: https://baillieparkgp.blogspot.com/?m=1