
Die NWU Prestige sportreeks is in die pylvak met beide Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom se rugby, netbal en hokkiespanne wat hulle oë op die finaal begin rig.
Die kwarteind en halfeindrondtes het die afgelope week plaasgevind en natuurlik was die kompetisie groot tussen al die skole. Potchefstroom Gimnasium se eerste seunshokkiespan is deur na die finaal van die NWU Prestige sportreeks en sal vir gouemedaljes uitspeel nadat hulle Dinsdagaand hulle halfeindstryd met 1-0 teen Hoërskool Rustenburg gewen het.
Wat hierdie oorwinning nog soeter maak is dat dit op RHS se tuisveld plaasgevind het.
Gimmies se eerste seunshokkiespan speel vanjaar kookwater hokkie en verdien om dit tot in die eindstryd te maak.
Gimmies se o.14A seunshokkiespan wen ook gemaklik vir Montana met 5-1 terwyl die o.16A span die knie met 3-2 teen RHS buig.
Die rugbyspanne van albei Potchefstroomse skole het gesukkel in die halfeindrondte van die reeks. Montana het Gimmies se eerstespan laat les opsê.
Hulle verloor met 42-5.
Die feit dat Montana die skrums oorheers het, het die Potchefstromers se penarie nog erger gemaak. Gimmies kon net nie op die voorvoet in die wedstryd kom nie.
Die laaste 10 minute veral het Montana die ellende op die blou en wit gepak.
Gimmies se verdediging het op tye lusteloos gelyk en glad nie na die loopgraaf soldate van Saterdag, 23 April tydens die kwarteindrondte nie. Dalk was dit die hitte in Rustenburg, maar die Potchefstromers het op tye gelyk of hulle nie by die tempo wat Montana gestel het kon bybly nie.
Volkies se eerste rugbyspan verloor ook in ‘n taai wedstryd teen Wesvalia van hulle buurdorp, Klerksdorp.
Dié was ‘n taai wedstryd wat die rooi en swart voel hulle moes gewen het. Hanteringsfoute in hulle opponent se kwartgebied het die Potchefstromers duur te staan gekom. Volkies was van die begin af die dominante mag in die skrums. Dit het nie die Klerksdorpers afgesit nie. Deur uitstekende werk by die afbreekpunte het hulle balbesit gewen.
Dit is duidelik dat Wesvalia hoë tempo vloeiende rugby van kant tot kant wou speel. Wanneer die bal op die punte gekom het, het die Bruinbere gevaarlik gelyk.
Op netbalgebied sorg Gimmies en Volkies se spanne vir gemengde uitslae. Volkies en Gimmies se o.16A en o.17A spanne sit oorwinnings in hulle sakke, maar albei skole se eerste spanne trap klei. Gimmies se eerste netbalspan verloor met 12-18 teen Die Anker, terwyl Volkies se eerstes met 28-37 teen Montana verloor.
Uitslae:
Volkies netbal: (NWU Prestigereeks halfeindstryde)
1stes teen Montana 28-37 (verloor)
2des teen Jeugland 29-10 (wen)
o.17A teen Jeugland 26-12 (wen)
o.16A teen Montana 28-17 (wen)
o.15A teen Montana 15-35 (verloor)
o.15B teen Anker 12 – 6 (wen)
o.14A teen Wesvalia 21-13 (wen)
o.14B teen Anker 19-9 (wen)
Volkies dogtershokkieuitslae:
14A: 3-4 vs Rustenburg (verloor)
14B: 0-4 vs Middelburg (verloor)
15A: 1-2 vs Rustenburg (verloor)
15B: 3-4 vs Middelburg (verloor)
16A: 0-5 vs Hugenote (verloor)
2des: 2-4 vs Wesvalia (verloor)
1stes: 2-1 vs Jeugland (wen)
Gimmies netbal: (NWU Prestigereeks halfeindstryde)
o.14A wen 27-15 teen Jeugland
o.15A verloor 17-22 teen RHS
o.16A wen 20-15 teen Noordheuwel
o.17A wen 26-15 teen Die Anker
Eerstespan verloor 12-18 teen Die Anker.