Die gemeenskap van Uitbreiding 2 het verlede week vir een van die prominente inwoners totsiens gesê. Ouma Bertha Seboni is op 86-jarige ouderdom oorlede.
Mev. Bertha Seboni is op 21 Augustus 1936 in Kgabasetso in die breë Potchefstroom omgewing gebore en is op 13 April oorlede.

Mev. Seboni het in die vroeë 90’s in Promosa kom woon en later in die nuwe Uitbreiding 2 Promosa, ook bekend as die Loans, ingetrek. Jonk en oud het haar as “ouma” geken, veral die inwoners van Librastraat waar sy en haar twee kleinseuns gewoon het.

Met die steeds onbeboude woonbuurt, het sy die behoefte van ‘n kleinskaalse besigheid in die vorm van ‘n tuckshop raakgesien.
Deur middel van haar tuckshop het sy aan die gemeenskap die basiese behoeftes voorsien en selfs lekker koue ysies vir die kinders in die somer gebied.
Omdat sy so aktief was en self na haar huis en tuin omgesien het, kon mense nie werklik haar ouderdom bepaal nie.
Vrydagoggend, 22 April, die dag voor ouma se begrafnis, was daar ‘n waterkrisis in Uitbreiding 2 en ander gedeeltes van Promosa.
Toe mevv. Siena Mckenzie en Cynthia Hendricks na die begrafnishuis gaan om hulp te verleen met voorbereidings, kon die werksaamhede weens die watertekort nie voortgaan nie.
Mev. Hendricks het dadelik na haar huis gery wat ook in Librastraat geleë is om haar kleinseun, mnr. Glenville Fransman, te skakel oor die waterkrisis.
‘n Ruk daarna het daar ‘n watertenk by die begrafnishuis opgedaag om die krisis op te los.
Die familie van die oorledene wil graag hulle dank teenoor mnr. Fransman en die J.B. Marks Munisipaliteit uitspreek vir die spoedige reaksie. Librastraat en die breë Uitbreiding 2 se mense gaan ouma Seboni baie mis.




