Huis Hebron wat die hawelose gemeenskap in Potchefstroom sedert 2002 ondersteun, het op 1 Mei ‘n spesiale Dankfees aangebied.

Dit was die eerste funksie wat oop was vir familie en vriende sedert die begin van Covid-19.
Die spyskaart het bestaan uit kerrie-en-rys en sponskoek met vla. Die borge vir die geleentheid was Homestead Slaghuis en Turkstra Bakkery. Braam Kramer het Huis Hebron met sang bedien en verskeie gassprekers het die inwoners en gaste toegespreek oor die redes waarom mens ten spyte van swaar tye, dankbaar moet wees. Nagenoeg 250 mense het die dag saam met Huis Hebron geniet, inwoners ingesluit.

Huis Hebron bied tans ‘n veilige hawe vir sowat 110 mense wat geen ander heenkome het nie. Wens die slegte ekonomiese omstandighede en die koue is Huis Hebron onlangs tot die maksimum kapasiteit gevul. Hierdie organisasie word uitsluitlik deur vrygewige skenkers ondersteun.

Die gaste het R30 per persoon vir die Dankfees betaal en alle fondse wat ingesamel is, is ten bate van ‘n projek om ‘n digitale projektor aan te koop. Huis Hebron het reeds R3 200 ontvang wat ter stuiwing van die Projektorfonds aangewend sal word.

Huis Hebron doen graag ‘n beroep op die publiek om hulle te ondersteun en met befondsing te help.
Enige belangstellendes is welkom om vir Carin Engelbrecht, projekleier by Huis Hebron, direk by 071 871 8702 te kontak vir nadere besonderhede en die bankbesonderhede. Volg ook Huis Hebron op Facebook en Instagram deur op die volgende skakels te kliek:
https://www.facebook.com/hebronpotchefstroom/ en https://instagram.com/hebronpotch.




