Miederpark se slaggate is iets waarvoor inwoners nou al ‘n geruime tyd keelvol is. Om hierdie probleem aan te spreek het die plaaslike daggakafee, Die Spat Kafee, se eienaars en vrywilligers hulle moue opgerol en slaggate die afgelope Saterdag, 21 Mei gevul.
Die Spat Kafee is ‘n privaat kuierplek waar Potchefstromers, wat die dagga-leefstyl en cannabis-kultuur volg, saam as ‘n gemeenskap kan kuier.
Hein Venter, eienaar van Die Spat Kafee, noem dat dit vir hom belangrik is dat die gemeenskap saamstaan en saamwerk om Potchefstroom te verbeter.

“Ons lede ry gereeld die paaie in Miederpark wat vol slaggate is. Ons het toe besluit om teer te kry teen ‘n goedkoop prys en ook gereedskap te huur om die werk te doen,” noem Venter.
Gate is in Kamp-, Pretorius, Kock en Chris Hani-strate reggemaak, maar daar is steeds baie gate wat gevul moet word. Volgens Venter wil hulle gate elke tweede maand op ‘n Saterdag regmaak as deel van hierdie gemeenskapsprojek.

“Ons het Saterdag 45 sakke teer verwerk en van so 10:00-14:00 gewerk. Dit was nogal harde werk en ons het dit die volgende dag gevoel,” vertel hy laggend.
Terwyl Venter en sy span die gate herstel het, het hy ook gesien hoe water afvoerslote in die strate met grond verstop is en dit een van die redes vir die slaggate is.
“As inwoners net voor hulle eie erf skoonmaak en netjies hou, dan sal dit alreeds ‘n groot verskil maak,” meen hy.




